'G7, help ons om vooruitgang vol te hou'
'G7, help ons om vooruitgang vol te hou'

'G7, help ons om vooruitgang vol te hou'

Pres. Cyril Ramaphosa sê die fokus van Afrika-ontwikkeling moet op vroue en kinders wees omdat hulle kwesbaar is en dikwels afgeskeep word.
Meghan Lawrence



Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag saam met die leiers van die G7-beraad in Frankryk vergader om kwessies van ongelykhede in die wêreldekonomie te bespreek en Suid-Afrika as 'n beleggingsvennoot te bemark.

Ramaphosa het Sondag in Biarritz in die suidweste van Frankryk aangekom vir die beraad waar die leiers van Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada die wêreldekonomie, politiek en gemeenskaps- en veiligheidskwessies bespreek.

Hierdie leiers ontmoet jaarliks vir besprekings en pres. Emmanuel Macron van Frankryk het Ramaphosa dié jaar genooi om saam met hulle te vergader. Suid-Afrika is verlede jaar ook uitgenooi, ná 'n afwesigheid van sewe jaar.

Volgens Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het Ramaphosa ten doel om ekonomiese vennote in ontwikkelde lande te identifiseer en Suid-Afrika as 'n beleggingsbestemming en 'n handelsvennoot te bemark om die ekonomie te laat groei en die werkloosheidsyfer te verminder.

Ramaphosa beklemtoon die voordele van die vryehandelsooreenkoms vir die vasteland wat aanvank­lik verlede jaar deur 27 lede van die Afrika Unie (AU) onderteken is en tans die steun van 54 lande op die vasteland geniet. Ramaphosa sê die fokus moet op vroulike entrepreneurskap en digitale transformasie wees, terwyl die groot struikelblok korrupsie is.

Hy benadruk dat Afrika ondersteuning nodig het wat infrastruktuurontwikkeling betref. “Afrika het vennote nodig wat gaan help om die vooruitgang wat gemaak is vol te hou.”

Ramaphosa sê die fokus van Afrika-ontwikkeling moet op vroue en kinders wees omdat hulle kwesbaar is en dikwels afgeskeep word.

Hy het ook oor die ongelykheid tussen Afrika-lande en ontwikkelde lande gepraat. Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, en Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, het Ramaphosa op die beraad vergesel.

Die beraad is in drie dele verdeel: G7 en die Afrika-vennootskap, wat Suid-Afrika, Rwanda, Egipte, Burkina Faso, Senegal en die voorsitter van die Afrika-unie insluit. Dan is daar ook die G7 en die vier Biarritz-vennote wat Suid-Afrika, Indië, Australië en Chili insluit. Die derde afdeling is die G7-beraad en al sy vennote.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer