Gaan die Britse leeu hier brul of net miaau?
Oor ’n ruk moet Brexit van krag word, en soos sake nou staan, stuur dit af op ’n stuurlose wegskeuring sonder ooreenkoms.
Leopold Scholtz - In die 19de eeu is van die Britse Ryk gesê dat hy só oor die aardbol versprei is dat die son nooit oor hom ondergaan nie. Dis lankal nie meer die geval nie, maar dit lyk of Gavin Williamson, Britse minister van verdediging, iets van daardie glorieryke tyd wil laat herleef.
Hy het vandeesweek aangekondig dat sy land se nuutste supervliegdekskip, HMS Queen Elizabeth, oor twee jaar na Oos-Asië sal vaar om China se anneksering van die Suid-Chinese See te betwis.
Aan boord van die vliegdekskip sal twee eskaders hipermoderne F-35-vegvliegtuie wees, en vermoedelik sal die skip deur verskeie fregatte en torpedojaers begelei word.
Dié nuus kan op verskeie vlakke beoordeel word. Vir eers is dit ’n kans om by die wêreld oor die Britse skeepsboukuns te spog, want die Queen Elizabeth (die eerste van ’n klas van twee) is werklik ’n hoogs indrukwekkende skip. Aangesien een van die twee F-35-eskaders aan boord Amerikaans gaan wees, is dit tweedens terselfdertyd ’n geleentheid om die militêre bande tussen Brittanje en Amerika te verstewig.
Ten derde het dit – altans uit ’n Westerse oogpunt – die voordeel dat ’n vuis gewys word aan China, wat in sy eie omgewing werklik letterlik grense oorskry. Beijing het die maritieme grense in die Suid-Chinese See eensydig opnuut tot vlak voor die kuste van Viëtnam, die Filippyne, Borneo en Indonesië getrek, en verskeie kunsmatige eilandjies in die omgewing in militêre vestings omgeskep.
ANDER MOONDHEDE BEKOMMERD
Daarmee beheer hy nou die noordelike toegang tot die Straat van Malakka, die besigste stukkie see ter wêreld wat die Stille Oseaan met die Indiese Oseaan verbind.
Dit is ’n saak wat ander moondhede bekommerd maak, want daarmee posisioneer China hom om teenstanders in ’n oorlogsituasie behoorlik seer te maak.
Vandaar dat Indië byvoorbeeld hard besig is om die Andamane, aan die Indiese Oseaan se kant, in militêre basisse om te skep.
Die vraag is of die beplande Britse operasie meer as ’n leë gebaar is. Die antwoord is nee, want dit is nie volhoubaar nie; dit sal ná hoogstens ’n paar weke verby wees.
Trouens, ’n mens kan jou voorstel dat die lug bo Beijing gedawer het van die lag toe die nuus bekend word. As die Amerikaners só iets sou doen – dít sou ’n ander kwessie wees.
Dit lei ’n mens tot die vermoede dat daar iets heel anders agter Williamson se aankondiging sit. Oor ’n ruk moet Brexit van krag word, en soos sake nou staan, stuur dit af op ’n stuurlose wegskeuring sonder ooreenkoms.
Alles dui daarop dat Brexit Brittanje se internasionale aansien en invloed ’n behoorlike knou gaan gee.
Die stuur van die vliegdekskip om die Chinese te “waarsku” lyk na ’n vyeblaar om te wys dat die Britse leeu steeds kan miaau. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie