Gaan ons toelaat dat buitelanders ons misbruik?
Gaan ons toelaat dat buitelanders ons misbruik?

Gaan ons toelaat dat buitelanders ons misbruik?

Dani Booysen
POITOU SKRYF:

Die berigte in Republikein van 20 Oktober 2017 “Chinees van dieremishandeling aangekla” en “Donkies in NV bespreek” verwys.

Is daar dan geen rus of vrede nie? Is daar dan nie 'n ophou van hierdie gekarring nie? 'n Mens wil elke dag met 'n glimlag en moed begin, maar dit word in 'n oogknip alles verander deur wat mense doen.

Hoekom is Namibië so gewild by die Chinese? Het van hulle gekom om ons hout, renosterhorings, olifanttande, ietermagôs, donkies (net vir velle, vergeet die vleis, dis net 'n dekmantel) ens. te stroop vir hulle eie gewin, om Namibië arm agter te laat wanneer hulle die pad vat?

Gaan ons toelaat dat Namibië bekend gaan staan as 'n land wat deur Chinese misbruik word, terwyl ons maar gelate toekyk dat ons hooggeplaastes nie ingegryp het nie?



VERBLYFVEREISTES

Moet ons nie 'n brief rig aan die ­Chinese ambassadeur in Namibië nie? 'n Skrywe waarin hy versoek word om alle Chinese burgers wat die voorreg gegun word om in Namibië te werk en te leef, daarop te wys dat hulle in 'n ander land is, met ander wette, met ander mense, met ander sienings en 'n ander leefstyl. En dat hulle moet aanpas om welkom te wees en aanvaar te word. Hulle moet aanpas by Namibië, nie Namibië by hulle nie.

Het hierdie Chinese Namibië toe gekom om 'n beter lewe te hê as wat hulle in China gehad het? Waarom doen hulle dit dan nie?

Baie van die gewone konstruksiewerkers kan nie eens Engels praat nie. Dit wil voorkom of die werkers wat die land ingebring word armoedige mense is wat teen 'n lae loon gebruik word. Om Namibiërs in diens te neem, gaan hulle beslis meer kos.

Hierdie is nie die enigste gevalle nie. Kort-kort is daar berigte waarin Chinese uitgevang word.

Moet 'n mens nou maar net terugstaan as jy so iets sien en die dier wreed doodgemaak word of moet jy intree en die dier probeer be­skerm? Ek weet nie, want vandag is dit so dat as jy intree en die persoon aanvat, dan word jy van aanranding aangekla, maar as jy terugstaan en net toekyk is jy in werklikheid mede-aandadig.

Ek is bevrees my instinkte sal my nie toelaat om net te staan en kyk nie. Ek sal instinktief optree om die dier te beskerm sonder om aan my veiligheid te dink.

VOORSORG

Oor die hele wêreld heen sit ons met die probleem. As iemand van kleins af grootgemaak word om wreed en gevoelloos teenoor diere op te tree, sien hulle niks daarmee verkeerd nie.

In sekere lande moet besoekers 'n verklaring teken dat jy nie sekere items in jou besit het nie en dat ­doeane die reg het om jou te deursoek as 'n valse verklaring gemaak is.

Net so kan dit vereis word dat besoekers aan Namibië bewus gemaak word wat nie in Namibië toegelaat word nie. Hulle moet dit teken saam met 'n afskrif van hulle visum en 'n paspoortfoto.

As dit nie by ons lughawens moontlik is nie, kan hulle by die ambassade rapporteer en hierdie vorms teken. In die geval sal daar geen verskoning wees wanneer hulle betrap word nie.

Wanneer hulle willens en wetens oortree, kan hulle sonder genade gestraf word en nie met 'n ligte boete of waarskuwing wegkom nie.

Daarby kan dit 'n vereiste wees dat enige Chinese werkgewer in Namibië wat behuising bied aan Chinese werknemers, verplig sal wees om 'n verklaring te teken waarvan afskrifte by die DBV en gesondheid ingedien sal word, dat hulle streng volgens Namibiese wette en reëls sal optree.

As mense herhaaldelik oortree, kan strawwe verswaar, met implikasies vir hul bedryf.

Chinese kontrakteurs wat van hulle eie mense wil inbring, kan onderhewig wees aan voorwaardes, byvoorbeeld: Vir elke Chinese burger moet hulle sewe Namibiërs in diens neem.

In geval van oortredings kan die kontrakteur beboet word en verplig word om die werker terug te stuur China toe op sy onkoste. Die harde realiteit van hoe ernstig Namibiërs is, sal mense oortuig om nie so maklik te oortree nie, want die gevolge gaan hulle erg benadeel.

Is daar enige inligting oor huidige voorwaardes? Kan enigiemand ons hieroor inlig?

Alle Chinese moet nie oor dieselfde kam geskeer word nie, maar ons weet hoe mense se denke werk.



GENOEG GESMEEK

Oor die donkieslagpale: Het ons waaragtig nog nie genoeg geskryf, gesmeek en gepraat nie? Die DBV het mense ingevlieg om te kom praat.

Het lande wat slagpale verban het nog nie genoeg getuienis gelewer nie?

Ons donkies is nog nooit kommersieel geteel soos slagvee nie. Donkies is werksdiere vir die meeste mense. Donkies se waarde word jammerlik onderskat, daarom dat ander lande besef het die slag van donkies hou geen finansiële voordeel in nie en hul donkiebevolking gaan uitgeroei word.

As ons owerhede hulle voete gaan neersit en ”nee” sê, gaan hulle toon dat hulle nie omgekoop kan word nie, dat hulle insig en integriteit het en dat hulle omgee.

Maak nie saak hoe die slagproses glo gemonitor sal word nie, daar is bewys dat die arme diere lewendig afgeslag word, want dan is die ­gelatine volgens bygeloof van 'n beter kwaliteit.

Ons ministers en ander betrokke persone moet navorsing op die internet doen.

Moenie blind wees nie, moenie kortsigtig wees nie, moenie omkoopbaar wees nie, moenie maak asof dit nie gebeur of sal gebeur nie. Die bewyse is daar, die feite is daar. Moenie julle eerbaarheid en siele verkoop vir 'n bietjie geld wat gou gaan opdroog nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer