Gaan Zuma uiteindelik te oud wees vir tronk?
Gaan Zuma uiteindelik te oud wees vir tronk?

Gaan Zuma uiteindelik te oud wees vir tronk?

Vertragingstaktieke en politieke speletjies sal waarskynlik meebring dat oudpres. Jacob Zuma van Suid-Afrika nooit die binnekant van ‘n tronksel sal sien nie.
Vida Booysen - Dit is nie baie waarskynlik dat oudpres. Jacob Zuma aan die pen gaan ry op die aanklagte wat teen hom heringestel is nie, sê Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit.

Venter het voor adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, se aankondiging Vrydagmiddag in Pretoria dat korrupsieverwante klagte teen Zuma heringestel gaan word, voorspel dat dit gaan gebeur.

Venter het Vrydagoggend op ’n sakeontbyt van Kindersorg Bloemfontein en Childline Vrystaat gepraat oor die politieke veranderinge wat die land beleef het sedert die ANC se nasionale konferensie in Desember in Johannesburg, en toe verwys na die moontlike vervolging van Zuma.

“Ja, hy gaan vervolg word, maar hy sal ons seker nog vyf jaar aan die gang hou met uitsteltaktiek,” voorspel Venter.

“Teen daardie tyd sal hy 82 jaar oud wees en ons sal vra of ons so ’n ou man kan tronk toe stuur.”

Venter sê die geskiedenis gaan Zuma waarskynlik oordeel as die swakste leier wat die land nóg gehad het, leiers uit die apartheidsera ingesluit.

“Die uitwerking van die Zuma-sloopbal het faktore wat die land uitmekaar trek, die oorhand laat kry – rassespanning, verdeeldheid in die regering, ekonomiese ongelykheid en onsekerheid oor die toekoms.”

Venter glo egter die ekonomie is by die draaipunt van herstel en hy voorspel ekonomiese groei van 1,5% vir vanjaar.

Oor die voortgesette invloed van die Zuma-faksie in die regerende party, het Venter gesê die “domino’s begin val”, met verwysing na Zuma se ondersteuners wat nou uit poste gewerk word.

“Die politiek is wreed. Jy word ingesuig in die gevolge van dit wat jy in die verlede gedoen het.”

Venter voorspel dat Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, se bedanking naby is, en hy glo dié pos sal opgeneem word deur Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies.

Oor kritiek dat pres. Cyril Ramaphosa nie vinnig genoeg beweeg om ministers of amptenare wat met korrupsie verbind word, uit die regering te verwyder nie, wys Venter daarop dat Ramaphosa nou ander prioriteite het om op te fokus.

“Hy doen dit stuk vir stuk, hy berei voor vir sy gevegte en hy kies hulle versigtig.”

Die fokusgebiede vir Ramaphosa tans sluit in die regruk van die ekonomie, om die regte aanstellings in die tesourie te doen en om die kredietgraderingsagentskappe te oortuig om die land nie verder af te gradeer nie.

“Hy is nie nou bekommerd oor wie die premiers van die Vrystaat of Noordwes is nie, hy speel ’n lang spel en hy weet die ander dinge sal oor tyd uitgesorteer word.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!