Gaborone goeie jagveld vir juniors

Krieket, sewesrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibiese junior sportspanne het in die afgelope dae heelwat sukses by afsonderlike toernooie in die buurland Botswana behaal.
Die Namibiese onder 19 meisieskrieketspan het ’n toernooi ingepalm waaraan sewe ander spanne meegeding het, naamlik Swaziland, Zambië, Lesotho, Mosambiek, Malawi, ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan en die gasheerspan.
Phia Gerber, skoolmeisie van Windhoek Hoërskool wat ook as hokkiespeler ’n gereelde staatmaker vir die nasionale vrouespan is, is as die voorste speler in die toernooi aangewys.
Om te sê dat die Namibiese span onder kapteinskap van Yasmeen Khan sake oorheers het, sal wees om dit oormatig sagkens te stel.
As voorbeeld het die Namibiërs in hul openingswedstryd Vrydag (T20) ’n formidabele totaal van 267/4 teen Swaziland opgestapel. Die arme Swazi’s is daarna binne agt boulbeurte vir net 13 lopies uitgeboul – wat ’n sege van 254 lopies aan Namibië besorg het. Die speler van die wedstryd was Phia Gerber met 89 lopies.
Wedstryd nommer twee teen Lesotho het op soortgelyke trant verloop. Yasmeen Khan (102) en Carmen Engelbrecht (101) is gesamentlik as speler van die wedstryd aangewys vir hul bydrae tot die Namibiese totaal van 254/1 in 20 boulbeurte. Lesotho kon met die kolf net 41 lopies bymekaar skraap en het met 224 lopies verloor.
Beter opposisie is soos verwag in die botsing teen die gasheerspan Botswana teëgekom. Dié keer is Namibië tot ’n meer beskeie 111 lopies beperk, maar die boulers en veldwerkers het saamgespan om die ligbloues vir 86 lopies uit te boul.
Op dié manier het Namibië boaan sy groep klaargemaak en is dus in die semifinaal teen Mosambiek opgeweeg het, wat verras het om tweede in die ander groep klaar te maak. Mosambiek het eerste gekolf (66/8 in 20 boulbeurte), voordat die Namibiërs dié teiken baie maklik in 8.4 boulbeurte behaal het (69/1) vir ’n oorwinning met nege paaltjies. Arrasta Diergaardt het hier 3/13 geneem.
Die ander semifinaal was ’n riller tussen Botswana en Suid-Afrika, met laasgenoemde wat verskeie SA Skole-spelers bevat het. Die Suid-Afrikaners het 110 as teiken opgestel, maar Botswana se jaagtog het deurgaans op koers gebly totdat hulle net sewe lopies van die laaste boulbeurt moes kry. Die tweedelaaste bal (’n wydloper) het die tellings gelykop gemaak, voordat Botswana die dramatiese wenlopies met ’n vierhou behaal het.
In die eindstryd – ’n herontmoeting tussen Botswana en Namibië – het eersgenoemde span in sy kolfbeurt 116/4 opgestel.
Die veelsydige Phia Gerber, wat vroeër ook twee paaltjies geneem het, het met 43 onoorwonne lopies help verseker dat Namibië ’n klinkende oorwinning met nege paaltjies behaal (120/1 in 17.1 boulbeurte).
Benewens Gerber se topprys het nog twee van haar spanmaats met individuele pryse weggestap. Annelise de Klerk was die voorste bouler in die toernooi, terwyl Yasmeen Khan as die topkolwer van die week bekroon is.
Die Namibiese span was Yasmeen Khan (Windhoek Affies, kaptein), Adri van der Merwe (Pro-Ed, Swakopmund), Arrasta Diergaardt (Concordia), Carmen Engelbrecht (WHS, paaltjiewagter), Danel Dreyer (Elnatan), Ester Simeon (Sekondêre Skool Kuisebmond), Kayleen Green (WHS), Hannelise de Klerk (WHS), Lea Gamxas (Tutaleni, Walvisbaai), Phia Gerber (WHS), Reehana Khan (Windhoek Affies), Silvia Shihepo (Concordia), Wilka Mwatile (Kuisbmond, Walvisbaai) en Wilmé Els (Pro-Ed). Die afrigter was mnr. Gareth Cloete en die spanbestuurder me. Andria Brand.

BALSPELE
’n Klipgooi daarvandaan het Namibië terselfdertyd ook sukses by die Cossasa Balspele in Gaborone behaal.
Die onder 12, o.13 en o.17 sewesrugbyspanne het almal hul onderskeie toernooie gewen. Almal se beslissende wedstryde was teen die gasheerspan Botswana, maar die Namibiërs se wentellings was 17-5 (die onder 12’s), 43-0 (die o.13’s) en 29-5 (die onder 17’s).

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer