Gabriu00ebl - almal se baba
Gabriu00ebl - almal se baba

Gabriël - almal se baba

'n Babaseuntjie wie se ma nie vir hom kan sorg nie, word met liefde by 'n tuiste vir wees- en weerlose kinders versorg.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Hy is 'n seëning met die grootste glimlag wat hy nóg gesien het.

Só vertel eerwaarde Edward Amadhila breëbors oor Baba Gabriël wat twee weke gelede sy intrek by die Tov-liefdadigheidsorganisasie vir vigswesies en weerlose kinders op Tsumeb geneem het.

Dit volg ná 'n oproep deur Ama­dhila dat vroue eerder hul babas hier moet afgee as om hulle weg te gooi of te laat aborteer.

“Ons boodskap aan sy ma en alle ander ma's in die land is dat hy steeds hare is. Ons maak hom net vir haar groot, sy kan hom altyd weer kom haal. Hy ontvang die nodige liefde en ondersteuning wat hy nodig het om hom die seuntjie te maak wat God hom bestem het om te wees,” sê Amadhila.

Hy erken dit was wel 'n aanpassing omdat die organisasie nog nie vantevore met babas gewerk het nie.

“Dit was 'n groot uitdaging om aan te pas by 'n nuwe manier van doen,” sê Amadhila.

Die organisasie is egter oorweldig deur die “ongelooflike liefde, ondersteuning, aanmoediging en raad” wat hulle van die gemeenskap kry.

Amadhila sonder dr. Nyasha Mangwi­ro, van die Northlands- mediese praktyk op die dorp, uit as “ons ster”. Mangwiro het onmiddellik verantwoordelikheid vir Baba Gabriël aanvaar en staan die organisasie met raad en daad by.

Me. Mary Forsythe en haar gesin het N$4 000 geskenk om in die huidige behoeftes van Tov se nuwe intrekkertjie te voorsien, me. Maria Nehoya het N$500 maandeliks beloof, en die ­Haihambo-gesin het 'n bedjie geskenk.

Me. Helena Uusiku, een van Tov se inwoners wat aan die Namibiese Instituut vir Myntegnologie (Nimt) studeer, is Baba Gabriël se “senior moeder”, vertel Amadhila.

Hy het beklemtoon die organisasie se belofte aan Baba Gabriël se ma sal altyd bly staan.



bEHOEFTE

“Sy is welkom om haar baba enige tyd te kom haal. Ons maak hom net groot soos die ander 65 kinders wat ons ondersteun. Die gesegde lui mos dit vat 'n hele dorpie om 'n kind groot te maak.”

In sy gesprekke met vroue in ver­skillende dele van die land, sê Ama­dhila, het hy tot die besef gekom hulle het dikwels net 'n behoefte daaraan om met iemand te praat.

“Soms het hulle net iemand nodig om saam met hulle te bid en wat hulle kan aanmoedig,” sê hy.

Volgens Amadhila is nog 'n oplossing die beskikbaarheid van 'n gratis hulplyn wat sewe dae per week en 24 uur per dag beskikbaar is om vroue te ondersteun.

“As ons nog babas wil red, is dít die manier om te werk te gaan.”

Volgens Amadhila het Tov ook 'n helpende hand uitgereik na nóg twee babas wat onderskeidelik op Gobabis en in die Suide gebore is.

“Ons het ingestem om albei vroue te ondersteun omdat hul omstandighede haglik is. Ons het ook ons hulpbronne beskikbaar gestel om hulle te help.”

Amadhila het weer 'n beroep op vroue in die land gedoen om hom te skakel, sou hulle hulp en ondersteuning nodig het.

Hy kan gekontak word by 081 274 8618. Kontakbesonderhede van nog organisasies wat vroue ondersteun, is Women's Solidarity Namibia ­(Windhoek) – 081 655 6013, (061) 220 303; OuKwanyama Tradisionele Owerheid – (065) 260 008; Life­line Childline Namibia (08:00 – 22:00) - (061) 23221 of noodnommers 116 of 106.

Lede van Namibia Health Plan (NHP) het ook 'n toegewyde Babyline wat 24 uur per dag deur opgeleide, geregistreerde verpleegsters beman word.

Babyline is vir NHP-lede met kinders onder die ouderdom van drie jaar by (061) 285 5400 of die tolvrye nommer 0800 255 255 beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!