u2018Game overu2019 vir die drosters
u2018Game overu2019 vir die drosters

‘Game over’ vir die drosters

[email protected]
Otis Daniels_Finck
Otis Finck – Vir ons buurt se kinders was die rioolopgaardamme aan die oorkant van die treinspoor verbode terrein.

Iets soortgelyk aan die heilige grond waarop Moses nie met sy sandale mag geloop het nie.

Maar dit is mos nou só dat hoe meer jy vir ’n kind sê bly weg, word sy nuuskierigheid geprikkel en spoor jy hom in wese aan om die onbekende te bevraagteken en die ongekende te verken.

Toe ons as kinders skool gedros het, het die oerwoud van riete en welige gras met sy donkergroen water, dryfsandkolle en massiewe tamaties, vir ons heeldag skuiling gebied. Weggesteek van die gemeenskap se soekende oë.

Baie van Narraville se “sharks” het daar geleer swem en elke besoek aan die verbode terrein was ’n avontuur.

Daar is klomp kattekwaad aangevang. Soms het die droë riete op onverklaarbare wyse aan die brand geslaan. Ons het in grotte geskuil en vlotte gebou om die stille waters van ons koninkryk soos ontdekkingsreisigers te verken.

Seilplankry teen die omliggende duine af, was ook ’n gunsteling-tydverdryf en iets wat moes bemeester word. Hoe vinniger en verder jy kon gly, hoe lekkerder.

Aan die einde van die dag of wanneer die “ou rokers” ons kom verwilder het, moes ons noodgedwonge huiswaarts keer.

Vir ons ouers was die vaal kolle agter ons kurkdroë ore en op ons lywe sowel as die reukie op ons gekraakte velle, gevaartekens. Daar is nie vrae gevra nie, want die bewyse was vanselfsprekend.

Ek dink dit moes iets in daai water gewees het wat die “game” weggegee het, soos ons sou sê.

Nie eens ’n hele potjie Vaseline kon verbloem dat jy oortree het deur by die rioolopgaardamme te gaan rondkarjakker nie. ’n Krom wysvinger en ’n kras “kamer toe” het altyd kort daarna gevolg. Soos ’n mak skaap moes jy gedwee slagpale toe. ’n Kabaal van tjank krete het dan soos loeiende sirenes die lug in opgestyg.

“Mamma! Hoelalaaa! Eina! Ek sal nie weer nie!”

Die klaagliedere is gevolg deur dreigemente van die dood. “Wil julle eers versuip voor julle hoor? Is dit ornamente wat teen julle koppe hang?”

Met elke hou se plofslag is daar hoog in die lug gespring en hard op die plankvloere geland. Ons agterstewe was aan die brand en niks en niemand kon ons red van die vlammehel nie!

Die asbesdakke het behoorlik gedreun onder ons noodkrete om genade.

Ná ’n goeie pakslae het ’n salige stilte in die buurt kom hang.

Daar was weer vrede – vir solank as wat die blou kolle en rooierige strepe op ons lywe die storie van ons ongehoorsaamheid oorvertel het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer