Gammams-begraafplaas totaal verwaarloos

Die bome, meestal uitheems, is ouer as 30 jaar en bereik die einde van hul leeftyd.
Tanja Bause
Tanja Bause

Die Gammams begraafplaas in Windhoek is in ’n haglike toestand. Die begraafplaas wat eens bekend was as die mees netjiese begraafplaas in die Suidelike Halfrond en die tweede mooiste ter wêreld, is nou ’n plek van verwaarlosing.

Volgens die woordvoerder van die munisipaliteit, mnr. Harold Akwenye, is daar huidig geen kontrakteur verantwoordelik vir die versorging van die begraafplaas nie, nadat die vorige kontrakteur se kontak in 2020 verval het.

“Ons het ’n tender vir die versorging van die tuin en terrein geadverteer. Die sperdatum was op 23 Februarie en nou wag ons om die suksesvolle bieërs aan te stel. Ons verwag dat hulle begin Mei met die werk sal begin.”

“Dit was ’n baie goeie reënseisoen en soos almal kan sien, groei die gras oral in Windhoek. Ons is tans ook besig om ’n aanbod vir die uithaal van gras en onkruid op Windhoek se sypaadjies te evalueer. Dit sal weens finansiële redes net ’n eenmalige taak wees. Die stad se parke-afdeling is tans besig om die onkruid op besige paaie en by kruisings uit te haal, maar sonder ’n kontrakteur is dit baie moeilik.”

Volgens hom word die begraafplaas se bome met die hand natgemaak omdat die waterkrane gereeld gesteel en vervang moet word.

“Daar is waterpunte by elke blok grafte. Dié punte is duidelik sigbaar en dis daar vir die publiek sodat hulle die plante by die grafte van hul geliefdes kan natmaak.”

Die waterstelsel is egter meestal buite werking. Pype lê verspreid oor die hele begraafplaas en op grafte rond, hulle is nie behoorlik gekoppel nie en die punte steek kort-kort uit die grond uit.

VRYWILLIGERS

In 2016 het wyle Oom Daantjie Louw en mnr. Klaus Linow saam met hul werkers en vrywilligers ingespring en die reeds verwaarloosde begraafplaas probeer opruim.

“Hier is nou ’n voorbeeld van ’n boom wat nie versorg is nie. Hy het baie lank laas water gekry. Ons praat nie eens van versorg of gesnoei nie. Hierdie is een van die redes hoekom ons begin het om die begraafplaas skoon te maak,” het Louw destyd gesê nadat ’n groot ou boom omgeval het.

“Dit is nie net die bome en plante wat al lankal nie meer versorg word nie, maar ook die hele waterstelsel en die begraafplaas in geheel. Gebreekte en ontkoppelde waterpype lê oral rond en mense kan nie natlei nie, al sou hulle wou,” het Louw gesê.

Volgens Akwenye is die bome meer as 30 jaar gelede geplant en is hulle nie inheems nie.

“Dit is logies dat elke voorwerp met ’n lewensduur sy volwasse status sal bereik en sterf en dan word dit verwyder en vervang. Tydens die droogte in 2019 is ook besluit om geen tuine nat te lei nie en dit het ’n groot impak op die tuine gehad. Die tuine het met die hulpbronne meegeding tydens die droogte.

“Ongelukkig is dié werklikheid nie iets wat omgekeer kan word nie, maar een opsie is om inheemse bome te plant wat droogte kan verdra.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!