Ganse wêreld draf saam vir renosters

Die Rhino Run vroeër vandeesmaand was maar net die begin.
Des Erasmus
Des Erasmus

Wanneer ’n bedreigde swartrenoster storm, is daar nie keerkans nie. Op 9, 10 en 11 Junie is die Brandberg Rhino Run met Uis as basis gehou. Nou draf die spesie die naweek weer, maar dié keer in verre lande.

In Namibië self, maar ook in lande soos Japan, Nieu-Seeland, Engeland en Suid-Afrika gaan daar Saterdag en Sondag oor ’n korter afstand van 5 km saambeweeg word. “Virtual races,” noem die drawwersgemeenskap die tipe ondersteuning. In die proses word 5 km gestap, gedraf of fietsgery.

Al wat nodig is om ondersteuning aan renosterbewaring uit te dra, is om ’n borslappie te dra wat op hul webwerf vertoon word. Dis ook waar besonderhede verstrek word oor hoe deelgeneem kan word. ’n Bewaringsinstansie van Frankryk het ook ingestaan om die virtuele renne te ondersteun.

Al wat ’n meeloper met die 5 km draf-, stap- of fietsryondersteuning hoef te doen, is om ’n foto van die deelnemer met sy borslappie in te stuur. Die Franse sal die deelnemer met die treffendste borslappie met die gelukspakkie beloon, ’n pakkie wat nie te versmaai is nie.

Terselfdertyd sal die boodskap van die belang van die bewaring van Namibië se swartrenosters die naweek en die daaropvolgende naweek deur twee deelnemers in Frankryk en Switserland uitgedra word. Dit is wanneer Riana Scholtz van Uis Sondag aan die Mont Blanc-marathon in Frankryk gaan deelneem en wanneer haar man, Nico, die volgende naweek as erkende bergklimmer die Matterhorn in Switserland gaan klim.

Die klim van die Matterhorn is ’n taamlike ritueel met die klimmers wat in ’n treintjie tot aan die voet van die spits gebring word. Daarvandaan word hulle in sneeukarretjies na die basis gebring van waar die klimmery begin. Geen ander voertuie word in die bewaringsgebied toegelaat nie.

Nico en Riana staan aan die spits van die organisasie van die Brandberg Rhino Run wat in die tweede naweek van Junie beslis is. Die ganse opbrengs van die byeenkoms gaan aan die Red die Renostertrust. Vanjaar was die opbrengs N$289 000 teenoor die N$200 000 van verlede jaar.

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer