• Tuisblad
  • Sake
  • Gaste se webkommentaar kan hotel se sterre bepaal
Gaste se webkommentaar kan hotel se sterre bepaal
Gaste se webkommentaar kan hotel se sterre bepaal

Gaste se webkommentaar kan hotel se sterre bepaal

Webkommentaar gaan voortaan in ag geneem word wanneer die Toe­rismegraderingsraad sterre aan blyplekke soos gastehuise en hotelle toeken.

“As 'n vierster-blyplek aanhoudend tweester-graderings kry op reis­webtuistes, sal dit vir ons 'n rooi vlag wees,” sê Darryl Erasmus, hoofgehalteversekeraar van SA Toerisme se graderings­raad.

Die raad se nuwe standaarde vir gradering, wat elke drie jaar hersien word, is pas afgehandel en sal na verwagting binnekort deur die minister van toerisme, Tokozile Xasa, vir kommentaar gepubliseer word.

Volgens Erasmus is daar wêreldwyd toenemend groter klem op diensle­wering, maar die grade­ringsraad het nie die hulpbronne om mense aan te stel om vir lang tydperke in hotelle en gastehuise te gaan bly en dienslewe­ring te beoordeel nie. Hulle kyk slegs na fisieke infrastruktuur.

Daarom gaan die graderingsraad voortaan 'n program gebruik wat kommentaar op webtuis­tes soos TripAdvisor, Bookings.com en Expedia ontleed en 'n gevolgtrekking maak oor diens­lewering.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van Fedhasa, die verteenwoordigende liggaam vir die hotelbedryf, het sy kommer uitgespreek dat hotelle onregverdig ­benadeel kan word deur “emosionele en ­ongegronde” kommentaar op ­webtuistes.

Erasmus sê egter die kommentaar sal slegs gebruik word om terugvoe­ring te gee aan gegradeerde instellings. “As daar byvoorbeeld baie klagtes is oor diens tydens ontbyt, kan ons opleiding vir die kelners teen afslagpryse beding en aan die spesifieke hotel bied.”

Daar is egter vrae oor of daar nog plek is vir die stergradering te midde van webtuistes soos Trip­Advisor en Bookings.com. Gerry Arrow, die eienaar van die Green Gables-gastehuis in die Strand, het in 2010 besluit om nie meer vir die grade­ringsraad se sterre aansoek te doen nie.

“ 'n Mens betaal 'n klomp geld.” Green Gables het 'n vierster-gradering gehad.

Arrow sê hul gaste spoor hulle op deur reisweb­tuistes.

Deidre Loubser, eienaar van die Ambience-gastehuis in Pretoria, het wel vierster-gradering, maar het dit as deel van 'n gratis aanbod gekry. Sy sê sy twyfel of sy daarvoor sou betaal.

Erasmus gee toe dat die gewildheid van die stergradering getaan het, maar sê daar is die afgelope jaar moeite gedoen om dit te bemark.

Dit kos R3 500 om 'n blyplek te laat gradeer.

Luidens SA Toerisme se jaarverslag was 5 369 plekke in 2015 geregistreer teenoor 5 230 in 2016. Erasmus, wat in 2015 by die organisasie aangesluit het, sê die getalle het sedertdien weer met 10% toegeneem.

Hy sê as mense na Suid-Afrika reis, verwag hulle om in plekke van 'n sekere gehalte te bly, en die stergradering verseker dat hulle nie teleurgestel word nie.

Tshivhengwa sê hul lede het gemengde gevoelens oor die stergradering. Een van die belangrikste voordele is egter dat staatsamptenare wat vir hul werk reis, daarmee gelok kan word.

Die regering se reisbeleid bepaal dat hulle in gegradeerde plekke moet bly.

Anita Lange, bestuurder van die De Molen-gastehuis op Somerset-Wes, sê die gradering is 'n goeie manier om jou te help om jou standaarde te verhoog. Sy sê dit is 'n lekker uitdaging om jou blyplek tot by vier of vyf sterre op te bou.

Sy sê ook veral oorsese toeriste is gesteld op die amptelike stergradering.

Erasmus sê van die ander veranderinge in die nuwe standaarde is strenger vereistes vir WiFi-toegang en 'n poging om mense aan te moedig om stortgordyne met 'n stortdeur te vervang. -Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!