Gatland 'hoop Wêreldrugby tree op'

Leeus-toer
Stephen Nell



Uit 'n Suid-Afrikaanse per­spektief het die doel seker die middele geheilig, maar Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, was geensins beïndruk met die video wat Rassie Erasmus verlede week gemaak het om die Australiese blaser Nic Berry se flaters aan die kaak te stel nie.

“Ons het stelsels en protokol in plek. Hopelik neem Wêreldrugby die saak in oënskou om seker te maak dat almal daardie protokol volg,” het Gatland Saterdagaand gesê ná sy span se nederlaag van 9-27 in die tweede toets van die reeks in die Kaapstad-stadion.

“Ek hoop net nie ons kom by 'n situasie uit waar mense dinge op Twitter en nie deur die amptelike kanale kwytraak nie. Ek vind dit vreemd dat daardie benadering gevolg is. Dis beslis nie iets waarby ek betrokke sal raak nie. Dis belangrik dat die integriteit van die spel behoue bly.”

Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, het nie net van Berry se flaters in die eerste toets uitgewys nie, maar ook uitgebeeld hoe die Bok-kaptein, Siya Kolisi, nie met dieselfde respek as sy eweknie van die Britse en Ierse Leeus, Alun Wyn Jones, behandel word nie.

Kolisi het in sy nuuskonferensie voor die toets beaam wat Erasmus gesê het.

Ofskoon Wêreldrugby dalk teen Erasmus (en selfs Kolisi) gaan optree, het dit beslis gelyk asof sy drastiese stap die gewenste uitwerking gehad het. Ben O'Keeffe, die Nieu-Seelandse blaser in Saterdag se tweede toets, het geeneen van die spanne ooglopend benadeel nie.



INSIDENTE

Agter die skerms sal dalk deur die Leeus aangevoer word dat die Bok-vleuel Cheslin Kolbe 'n rooi kaart eerder as 'n gele moes gekry het nadat hy met Conor Murray kontak gemaak het terwyl die Leeus se skrumskakel in die lug was.

Aan die ander kant was Duhan van der Merwe ongestraf vir 'n vroeë boorvat wat Pieter-Steph du Toit beseer het. Van der Merwe het later 'n geel kaart gekry toe hy vir Kolbe gepootjie het.

Beeldmateriaal van ander voorvalle uit die wedstryd het ook Saterdagaand op sosiale media die rondte begin doen.

In een kan gesien word hoe die Leeu-slot Maro Itoje met sy knie op die Bok-senter Damian de Allende se keel druk.

In 'n ander een is die Leeu-heelagter Stuart Hogg se mond teen Willie le Roux se arm en het sekere sosiale mediagebruikers die aantyging gemaak dat Le Roux gebyt is.

Oor die Kolbe-voorval sê Gatland dat hy nie oor die skeidsregter se beslissings kommentaar gaan lewer nie.

“Ons sal dié week met die skeidsregter vergader en sien waarmee die assessors vorendag kom. Dit het nie goed gelyk van waar ek gesit het nie, maar daar is besluit dat dit 'n geel kaart moet wees,” sê hy.

Gatland is gewis nie 'n engel wanneer dit kom by sy mond uitspoel oor skeidsregters se beslissings nie. Trouens, hy was ná die Leeus se nederlaag teen 'n Suid-Afrika A-span uitgesproke daaroor dat Faf de Klerk meer as 'n geel kaart moes gekry het vir 'n gevaarlike duikslag op Josh Navidi. Dan is daar ook in die Britse media berig dat hy woedend was oor die aanstelling van die Suid-Afrikaner Marius Jonker as TV-skeidsregter vir al drie toetse.

“Ek het in die aanloop tot die (eerste) toets nie 'n woord oor die TV-skeidsregter gesê nie en tog is ek daarvan beskuldig dat ek sy integriteit bevraagteken. Dís die boodskap wat hulle (Suid-Afrika) verkondig het,” sê hy.

“Ons sal dinge maar net vir onsself hou en deur die regte kanale gaan wanneer dit by die skeidsregter kom.”

Oor die groot nederlaag in die tweede toets sê Gatland dat sy span ná 'n goeie eerste helfte in die tweede net nie aan die gang kon kom nie. Hy dink ook dat die Bokke daarin geslaag het om spel te vertraag.

“Dis iets wat ons op die agenda sal plaas – hoe ons meer tempo in die spel kry sodat die span nie konstant vir beserings gestop word nie, wat in die tweede helfte gebeur het,” sê hy.

Gatland beskryf komende Saterdag se derde toets as 'n “Beker-eindstryd”.

“Daar's 'n paar dinge wat ons in ons spel sal moet opknap. Dis een-elk en Suid-Afrika het ongelooflik baie emosie in die tweede toets ingesit. Ons het nou volgende week die kans om die reeks te beklink.”

Die Fransman Mathieu Raynal is as skeidsregter vir die derde toets aangestel.

Die gewese Bok-afrigter Nick Mallett, wat as ontleder vir Super­Sport werk, sê Raynal sal 'n ander uitdaging vir die spelers bied aangesien Engels nie sy eerste taal is nie. Mallett het ook gesê die Fransman hou nie daarvan dat die spelers te veel met hom op die veld praat of hom probeer voorsê nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!