Gawanab neem Fishcor se leisels oor
Gawanab neem Fishcor se leisels oor

Gawanab neem Fishcor se leisels oor

Die nuwe uitvoerende hoof is beter bekend in die mynboubedryf – veral die diamantbedryf – waar hy vir meer as twee dekades werksaam was.
Yandi Du Plessis
Mathias Haufiku

Ná die maatskappy meer as twee jaar sonder ’n vaste uitvoerende hoof was, sal die staat se sukkelende vismaatskappy, die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor), uiteindelik ‘n permanente leier hê nadat die gesoute bestuursbeampte, mnr. Alex Gawanab, in dié posisie verkies is.

Hy sal na verwagting volgende week Woensdag sy pos inneem.

Die minister van staatsondernemings (SOE’s), mnr. Leon Jooste, het die aanstelling bevestig en gesê hy “sal op 1 Desember aangestel word”.

Van die onmiddellike uitdagings wat op Gawanab wag – volgens Fishcor-personeellede – sluit in om die beeld van die maatskappy te herstel, asook om met volhoubare maatreëls vorendag te kom vir inkomstegenerering om die maatskappy se kop bo water te hou.

Fishcor voer ’n sukkelbestaan sedert die Fishrot-skandaal in 2019 aan die lig gekom het, en het meestal reddingsboeie van die staat in die vorm van visvangkwotas ontvang. Hierdie kwotas sou dan opgeveil word om sakebedrywighede te finansier.

ERVARING

Gawanab is beter bekend in die mynboubedryf – veral die diamantbedryf – waar hy vir meer as twee dekades werksaam was.

Hy het ‘n honneursgraad in chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad (UCT) verwerf. Hy het ook ‘n meestersgraad in besigheidsbestuur en administrasie van die Universiteit Stellenbosch (US). Sy tesis het gehandel oor die behoefte aan die veredeling van Namibiese diamantuitvoere en die impak daarvan op ekonomiese prestasie.

Hy het by verskeie semistaatsinstellings soos Debmarine, Namdeb en NamWater gewerk. Hy was ook werksaam in die private sektor by Dundee Precious Metals, Swakop Uranium en NamGem Diamond Manufacturing.

Die weekblad Confidente het in September berig sewe mense het om die pos meegeding.

Onder hulle is die direkteur in die ministerie van visserye, mnr. Hafeni Mungungu; die adjunkvoorsitter van die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN), me. Lischen Ramakhutla; me. Ndeshi Akwenye, wat ‘n senior bestuurder by Namibia Breweries Ltd was; me. Saima Ntinda, ‘n voormalige hoof interne ouditeur by Air Namibia; mnr. Ferdinand Ganaseb, wat ‘n bestuurder van ingenieurs- en tegniese dienste by TransNamib was, en mnr. Jonisiu Kambwale, ‘n finansiële bestuurder by NEPC.

Tot dié aanstelling was Gawanab die direkteur van sakeverbetering by Swakop Uranium.

VORIGE ONGERYMDHEDE

Fishcor moes twee onderhoudsprosesse voer nadat die ministerie van SOE’s die aanvanklike proses weens beweerde werwingsonreëlmatighede gestaak het.

Gedurende die eerste proses is mnr. Stanley Ndara, die uitvoerende hoof van Fisheries Observer Agency, vir die pos aanbeveel.

Die ministerie het in Junie die Teenkorrupsiekommissie (ACC) gevra om ondersoek in te stel ná hoe hy op die kortlys beland het nadat hy glo die sperdatum vir aansoeke misgeloop het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!