Gay eggenoot veg voort vir domisilie
’n Gay Suid-Afrikaner veg voort teen Namibië se diskriminerende wetgewing en vir sy reg om saam met sy man en hul kind in die land te bly.
Jana-Mari Smith
’n Suid-Afrikaner wat met ’n Namibiër van dieselfde geslag getroud is, is van plan om by die hooggeregshof teen ’n hoërhofbeslissing te appelleer wat hom belet om in Namibië te woon.
’n Hoërhofregter het aan die begin van Maart mnr. Guillermo Delgado Castañeda se aansoek om ’n beslissing deur binnelandse sake, wat hom woonplek in die land weier, te hersien en tersyde te stel, van die hand gewys.
Castañeda het verlede jaar ’n regsgeding teen owerhede aanhangig gemaak nadat ’n immigrasiebeampte ontdek het dat hy in ’n huwelik van dieselfde geslag met die Namibiër mnr. Phillip Lühl is en hom uit die land geskop het.
Castañeda en Lühl woon sedert 2011 in Namibië en is in 2014 in Suid-Afrika getroud. Hulle het ’n jong seun saam wat uit surrogaatskap gebore is.
DISKRIMINASIE
Regskenners sê die feit dat Castañeda ’n regstryd vir wetlike domisilie moet voer omdat hy reeds dekades lank in die land werk en ’n familie-eenheid hier gestig het, is net nog ’n voorbeeld van die land se homofobiese streep.
“Namibië se skokkende behandeling van die gay en lesbiese gemeenskap ondermyn na my mening die land se verbintenis tot nie-diskriminasie,” het me. Dianne Hubbard van die Legal Assistance Centre (LAC) gesê.
Sy het bygevoeg die uitspraak is op die regskwessie van domisilie gebaseer, maar dat dit die breër kwessies geïgnoreer het van die grondwetlike beskerming van familie en kinders wat hier ter sprake is.
HOFVERRIGTINGE
Castañeda se verteenwoordiger, me. Uno Katjipuka van die openbare regsfirma Nixon Marcus, sê die uitspraak was “baie teleurstellend”.
Buitelanders wat met Namibiërs van teenoorgestelde geslagte getroud is, is wetlik outomaties geregtig op domisilie.
“Eerstens, my kliënt het alles reg gedoen en het aan binnelandse sake se prosedures voldoen, insluitend om aansoek om domisilie te doen.”
Sy sê Castañeda en sy man het oop kaarte met binnelandse sake gespeel, ondanks die ministerie se argument dat hulle wou wegsteek dat hulle van dieselfde geslag was.
“Ongelukkig het die hof gekies om ’n kliniese benadering tot die Wet op Immigrasiebeheer te gebruik en sodoende die praktyk te ignoreer wat binnelandse sake ten opsigte van hierdie domisiliesertifikaat toegepas het,” het Katjipuka gesê.
Castañeda het in die hof gesê: “Hoewel die Namibiese wetgewing nog nie huwelike van dieselfde geslag erken nie, voer ek aan dat die feit dat ek en Phillip vir meer as tien jaar in ’n stabiele verhouding is, is tog ’n relevante faktor om in ag te neem.”
Die regter het hierdie argument van die tafel gevee en gesê geen argumente is voor hom gevoer “om die land se benadering tot huwelike van dieselfde geslag ongrondwetlik te verklaar nie”.
Katjipuka het bygevoeg die hofbevel dat Castañeda sy regskoste sowel as dié van binnelandse sake moet betaal, “maak hoegenaamd geen sin nie en is duidelik onregverdig teenoor my kliënt”.
Intussen woon Castañeda in Namibië op grond van ’n werkpermit en het hy aansoek gedoen om dié visum te verleng.
INTERNASIONALE WETTE
Die menseregteprokureur mnr. Norman Tjombe sê ’n ander strategie vir só ’n saak is om die argument van “internasionale hoflikheid” te bevorder.
Dit beteken dat Namibië verplig is om die wette van ’n ander land te erken, insluitend die familiewette wat huwelike van dieselfde geslag toelaat en dat ’n “huweliksmaat” in die Immigrasiebeheerwet ’n “huweliksmaat” in terme van daardie land se wette moet insluit.
In Suid-Afrika, waar die egpaar getrou het, word huwelike van dieselfde geslag reeds lankal wetlik erken.
Tjombe het opgemerk die veldtog vir die erkenning van huwelike van dieselfde geslag in Namibië is steeds ’n opdraande stryd.
Hy sê die toenemend positiewe internasionale regstendense maak sterker argumente in sulke sake moontlik.
Hy voeg by ’n ander opsie vir paartjies in dieselfde bootjie is om ’n “volledige aanval op die gemeenregtelike definisie van ’n huwelik (’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou met uitsluiting van ander …) van stapel te stuur en sodoende erkenning aan dieselfde geslag huwelike te gee”.
Beide Hubbard en Tjombe sê hulle is hoopvol die verskillende sake wat tans voor die hof dien om diskriminasie teen egpare van dieselfde geslag uit te lig, kan ’n verskil maak. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie