Gay-huwelike in volbank se hande
Gay-huwelike in volbank se hande

Gay-huwelike in volbank se hande

Denver Kisting
Denver Kisting



Teen gister is die drie regters wat moet besluit oor die toekoms van selfdegeslaghuwelike in Namibië nog nie bekend gemaak nie.

Dít kom nadat die regter-president en adjunkhoofregter Petrus Damaseb sowat twee weke gelede gelas het 'n volbank moet drie sake gesamentlik aanhoor.

'n Huwelik tussen 'n Namibiër en 'n buitelander is in al drie dié sake 'n element.

Namibië erken nie in dié stadium huwelike tussen mense van dieselfde geslag nie – selfs al is dié paartjies getroud in 'n land waar sulke verbintenisse wettig is.

Die regering beskou wel 'n huwelik tussen 'n man en 'n vrou wat elders voltrek is as 'n wettige verbintenis.

Gister was 'n geding wat die prokureur me. Anita Grobler en haar vrou, me. Julia Susan Jacobs, teen die regering aanhangig gemaak het, weer op die rol.



hofdatums nog nie bekend

Hul prokureur, mnr. Stephen Vlieghe van Koep & Partners, het by navraag gesê hulle het gehoop die hoërhof in Windhoek sou gister reeds bekend maak wie die drie regters is wat die sake gesamentlik sal aanhoor.

Daar is ook steeds geen besonderhede oor hofdatums nie, het hy gesê.

Jacobs, 'n Suid-Afrikaner, en Grobler, 'n Namibiër, is in die proses om hulle in Grobler se geboorteland te vestig nadat hulle etlike jare in die buurland gewoon het.

In hofstukke sê die paartjie Jacobs en die egpaar se troeteldiere woon reeds op Swakopmund in 'n huurhuis.

Hulle het ook reeds 'n erf gekoop waarop hulle voornemens is om 'n huis te bou.

Die paartjie het die geding aanhangig gemaak sodat Jacobs, 'n afgetrede verpleegster, in Namibië mag woon.

Grobler sal na verwagting ook eersdaags 'n regspraktyk in Namibië vestig sodra sy toegelaat word.

In dié stadium bedryf sy 'n regsfirma in Kemptonpark.

Me. Carli Schickerling, 'n ander Windhoekse prokureur, verteenwoordig die ander twee paartjies.

Oor mnre. Johann Potgieter, 'n Namibiër, en sy Suid-Afrikaanse man, mnr. Danny Digashu, sê Schickerling: “Die aansoek is basies daarop gemik om 'n hofbevel te kry wat bevestig dat huwelike van dieselfde geslag, wat voltrek is in 'n ander land waar dit wettig is, erken moet word as 'n wettige huwelik by ons ook.”

Volgens haar vra hulle nie die hof om huwelike van dieselfde geslag te wettig nie, “maar bloot erkenning van Danny en Johann se huwelik en die erkenning van hul eenheid as 'n gesin (en die reg daarop) soos verskans in ons Grondwet”.

Potgieter en Digashu het intussen 'n veldtog van stapel gestuur om bewusmaking te probeer skep van hul strewe om as 'n gesin in Namibië te mag woon en wees.

#IAmLucas is vernoem na die egpaar se 10-jarige seuntjie Lucas.

Me. Monica Geingos het onlangs haar stem dikgemaak teen die gemeenregtelike wet rakende sodomie wat sy as 'n onlogiese wet beskou.

Hiervolgens word anale seks met instemming tussen volwasse mans in Namibië as 'n misdaad beskou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!