Gayle moker 18 sesse vir nuwe rekord
Gayle moker 18 sesse vir nuwe rekord

Gayle moker 18 sesse vir nuwe rekord

Krieket
Chris Gayle het Dinsdag 18 sesse gemoker op pad na ’n onoorwonne 146 van 69 balle vir die Rangpur Riders teen die Dhaka Dynamites om T20-geskiedenis te maak in die eindstryd van die Bangladesj-premierliga.

Die sterkolwer van die Wes-Indiese Eilande is boonop met sy telling op 22 deur Shakib Al Hasan laat val voordat hy die rekord verbeter het wat hy in die eindstryd van die Indiese Premierliga in 2013 opgestel het.

Gayle (38) het daardie dag 17 sesse gemoker in ’n onoorwonne 175 vir die Royal Challengers Bangalore teen die Pune Warriors. Die Jamaikaan se kolfbeurt het hom verby 11 000 lopies in die kortste formaat van die spel geneem, terwyl hy nou ook die eerste speler word om 20 honderdtalle in T20-krieket aan te teken.

Gayle wat nou 819 sesse in T20-krieket gemoker het, was in September die laaste keer vir die Windies in aksie. Sy laaste toetswedstryd was in 2014 teen Bangladesj. Gayle se onoorwonne vennootskap van 201 lopies saam met Nieu-Seeland se Brendon McCullum het die Rangpur Riders gehelp om 206/1 aan te teken. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer