Gayle trek los: 'Chris Gayle kry nooit respek'

Krieket
Tinus van Staden - In 'n bisarre mediakonferensie waar hy vier keer na homself in die derde persoon verwys het, het Chris Gayle te velde getrek oor die chroniese minagting wat hom glo al sy ganse loopbaan volg.

Dié 40-jarige Windie-mokerman het sy laaste wedstryd vir die Jozi Stars Sondag op die Wanderers met sy eerste vyftigtal in vanjaar se Mzansi-superliga gevier. Sy 54 teen die Tshwane Spartans volg op power beurte van 17, 18, 0, 11 en 1.

Ná die wedstryd – die Stars se sesde agtereenvolgende nederlaag – is hy uitgevra oor die verdedigende kampioenspan se kleitrappery.

Eerstens het hy sy misnoeë te kenne gegee met hoe die span verloor het. In hul strewe na 'n bonuspunt het die Stars hul laaste sewe paaltjies vir 13 lopies in 29 aflewerings verloor. Dít terwyl hulle slegs 37 lopies van 34 balle vir 'n oorwinning benodig het.

“Dit was sleg om te sien, ek wou graag vir die ondersteuners iets gee om oor te juig. Dit maak almal seer, vir my ook,” het Gayle begin.

“Dit is nie hoe 'n kampioenspan speel nie. Die franchise sal na homself moet kyk, ek weet nie of dit 'n probleem weg van die veld af is nie.

“Ek het vir die Lions ook gespeel en dit is nie die tipe krieket wat die franchise speel nie. Iets is fout, ek weet nie wat dit is nie, maar dit sal gevind moet word en uitgestryk moet word.”



'MENSE ONTHOU NIE'

Daarna het hy begin praat oor 'n opvatting dat Gayle altyd die probleem is, ongeag vir watter span hy speel.

“Sodra ek vir twee of drie wedstryde nie goed vertoon nie, is dit asof Chris Gayle 'n las vir die span is.

“Ek praat nie net van dié span nie. Dit is iets wat ek opgelet het deur die jare wat ek franchise-krieket gespeel het.

“Chris Gayle is gewoonlik 'n las sodra ek nie drie of vier of hoeveel keer ook al groot lopies aanteken nie. Dan kry ek nie respek nie. Mense onthou nie wat jy vir hulle gedoen het nie.

“Ek praat nie net van hierdie span nie. Ek praat van spelers, bestuur, topbestuur, raadslede . . . Chris Gayle kry nooit die nodige respek nie.

“Sodra Chris Gayle misluk, is dit die einde van sy loopbaan, is hy die swakste speler en al die tipe dinge. Maar gewoonlik verwag en hanteer ek dit.”

Krieket is soos die lewe, sê Gayle.

“Jy moet dit met baie respek benader, anders gaan jy hard aarde toe gebring word.”

Hy is van plan om nou sy batterye te gaan herlaai. Hy sou nie eens in die eerste ses MSL-wedstryde gespeel het nie, was dit nie vir die pret wat hy verlede jaar hier gehad het nie.

“Die omgewing in die kleedkamer was baie lekker. Daarom wou ek vanjaar baie graag weer kom speel; dit het glad nie oor geld gegaan nie.

“Gewoonlik sou ek nou 'n blaaskans geneem het, maar ek wou graag hier wees.”

- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer