Gayregte: 'Breek af die boeie'

Denver Kisting
Denver Kisting - Dieselfdegeslag­verhoudings en geslagsuitdrukking is in 72 lande dwarsoor die wêreld steeds 'n misdaad.

Dít kom ondanks die feit dat die ontwikkelingsdoelwitte van die internasionale gemeenskap binne die konteks van volhoubare ontwikkeling vereis dat onmiddellike aandag geskenk moet word aan die versekering dat lesbiese, biseksuele, gay, transgender en interseks (LGBTI) mense word nie verder uitgesluit nie.

Só het die uitvoerende direkteur van Out-Right Namibia (ORN), mnr. Friedel Dausab, Donderdag in Windhoek tydens die vieringe van die Inter­nasionale Dag teen Homo­fobie, Transfobie en Bifobie (Idahot) gesê.

“Om seker te maak niemand word uitgesluit nie, móét daar opgetree word om die ­hindernisse van stelsels in die samelewing af te breek wat LGBTI-mense weerhou daarvan om die vrugte van die ontwikkelingsagenda te pluk.”

Dausab sê nuus oor geweld en teistering teen lede van die LGBTI-­gemeenskap blý die norm dwarsoor die wêreld.

Hierdie diskriminasie lei daartoe dat dié weerlose gemeenskappe steeds aan die agterste speen suig wat toegang tot hul ekonomiese, maatskaplike, gesondheids- en ­kulturele regte betref, het hy ­gewaarsku.

In 'n verklaring wat die plaaslike kantoor van die Europese Unie (EU) by monde van hul woordvoerder, me. Susan Lewis, uitgereik het, sê dié wêreldliggaam hy bly toegewyd daaraan om alle vorme van diskriminasie en haatmisdaad op grond van seksuele oriëntasie en geslagsidentiteit te bekamp.

Hiernaas, sê Lewis, verbind die EU hom opnuut daartoe om die menseregte van alle LGBTI-mense aktief te bevorder en te beskerm.

Sy sê voorts hulle gaan aanhou om vir gelyke regte te baklei.

Tydens Donderdag se verrigtinge by die ORN-hoofkantoor in Windhoek-Noord het mnr. Bernardus Harageib, van Lifeline/Childline, gesê LGBTI-mense se geestesgesondheid beland dikwels weens aanvullende druk in die weegskaal.

Me. Jholerina Timbo, uitvoerende direkteur verbonde aan Wings To Transcend, sê op haar beurt transgender mense gaan ook onder geweldige druk gebuk - veral omdat mense geen onderskeid kan tref tussen ­seksuele oriëntasie en geslags­identiteit nie.

Seksuele oriëntasie bepaal of 'n mens as hete­roseksueel, gay of biseksueel identifiseer, terwyl geslagsidentiteit verband hou met die identifisering van óf manlik óf vroulik óf niebinêr, ongeag ­liggaamskenmerke.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!