Gazebo-kaskenades op die strand
Mariselle Stofberg – Hierdie Paasnaweek het die hele Namibië én haar kinders na die koue en feestelike atmosfeer van die kus gevlug.
Ek en moederlief het die trop gevolg en weer ons getroue Nissan Micra Petunia gepak en die langpad aangedurf.
Soos almal reeds weet, het ons gesin die vermoë om ongeluk soos 'n mot na lig te trek soos niemand anders kan nie. Dit verskaf gewoonlik meer as genoeg vermaak vir dié rondom ons.
Dié keer is die fokus gelukkig nie op ons nie, maar wel mense met wie ek heeltemal kan identifiseer.
Op dag 2 kamp ek en my ma op die strand, gewapen met ons twee-en-'n-halwe strandsambrele, handdoeke wat hopeloos te veel al gewas is, koelboks met genoeg lekkernye en te min ys en hope persoonlikheid.
Dit is natuurlik nie 'n partytjie sonder Tannie Malibu en Oom Zorba nie, so dinge het heel jolig gegaan met hierdie partytjie van twee.
Ons was egter nie alleen op die strand nie. Die hele Namibië het op Langstrand gestaan en regs van ons het 'n gesinnetjie van vier hul heel gemaklik gemaak. Pappa het reeds vroeg begin bedrywig geraak met sy Tafeltjie, en Mamma se wyntjie het ook sy werk begin doen.
Die gesin het lekker in die sonnetjie gesit en 'n vleisie op die kole gegooi. Klink alles idillies tot jy besef die kampie moet nog opgeslaan word met al vier wat reeds lekker warm onder die kraag is.
Gooi nog die afslaan van 'n gazebo by die mengsel in, dan weet jy 'n krisis is op hande. Die meeste mense wat ek ken, sukkel om 'n gazebo af te slaan al is hulle nugter, en die idee van een afslaan ná bietjie versterkings, laat my in my sokkies bewe. Pappa-beer en kie besluit egter hierdie is 'n uitdaging waarvoor hulle nie gaan terugstaan nie.
Al vier staan sukkel-sukkel uit hul kampstoele wat hoeka al driekwart in die sand weggesak het. Ek en my ma lê terug en maak ons gereed vir 'n prettige fees.
Eers sien jy die viertjies staan en bekyk die gazebo. Pappa begin praat en al vier gaan staan by 'n poot.
Êrens het iemand wel deurmekaar geraak met die instruksies, want Mamma trek, Pappa is besig met iets wat so tussen trek en stoot is, Sussie 2 sukkel om die gazebo se poot raak te vat en Sussie 1 lig sommer poot en tentpen uit die grond.
Wat ek ook moet bysê, is dat 'n geniepsige windjie begin waai het, wat die hele spul deurmekaar gemaak het. Hulle besluit toe om eers die seil af te haal, wat die vier vir ten minste tien minute besig gehou het. Pappa se gesig is teen dié tyd blink gesweet en ek kan sommer sien 'n krisis is onafwendbaar. Pappa begin lag oor Sussie 1 in die toue van die gazebo vassit, maar Mamma dink nie dit is snaaks nie.
Mamma raak vies, want Pappa wil hom doodlag vir die spul. Sy snou hom iets toe, en dié vererg hom net daar. Hy gryp die seil en storm bakkie toe, waar hy manalleen probeer om die seil op te vou, terwyl die vroue dit met die gazebo se raam uitspook.
Naas die opvou van 'n paslaken, is die opvou van 'n seil iets wat ek nooit sal bemeester nie.
Arme Pappa het sy hart uit probeer om die seil opgevou te kry. Nes hy een punt beetkry, gryp die wind die ander dele en word alles uit sy hand geruk. Ek en my ma lê al soos ons lag, want hoe meer hy probeer hoe erger raak die situasie. Die seil is orals en later lê die arme man op die strand en probeer net die vier punte van die seil opspoor.
Mamma en Sussies 1 en 2 is naby aan trane, want niemand weet meer of hulle die pote moet trek of stoot nie.
Ná 'n halfuur se gesukkel, druk Pappa die seil net so deurmekaar in die bakkie in. Mamma en Sussies kry uiteindelik dit reg om die gazebo so halfpad opgevou te kry, en gooi dit en die res van die kamptoerusting op die bakkie. Niemand praat met mekaar nie, en almal klim soos een man in die voertuig.
Kort en lank van die storie: Gazebo opslaan is nie vir almal nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie