Geblikte leeus: SA'ers is besorg oor skade aan beeld
Die geblikteleeubedryf dra minder as 2% by tot die toerisme-inkomste van die land.
Elise Tempelhoff - Die meeste Suid-Afrikaners wat aan 'n peiling deelgeneem het, is bekommerd oor die skade wat geblikte leeus aan die land se buitelandse beeld aanrig.
Só het die Humane Society International (HSI) Dinsdag gesê toe dié bewaringsorganisasie die uitslag bekend gemaak het van 'n meningspeiling wat Ipsos in opdrag van HSI Afrika onder 1 264 Suid-Afrikaners oor hierdie bedryf gedoen het.
Die uitslag van die peiling is uitgereik op die eerste dag wat bewaringsorganisasies voorleggings oor dié omstrede bedryf aan die parlement gedoen het.
Die HSI het terselfdertyd 'n verslag, “Captive Lion Breeding for Hunting in South Africa: Harming or Promoting the Conservation Image of the Country”, uitgereik.
Luidens dié verslag, wat in opdrag van die HSI deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede saamgestel is, dra die geblikteleeubedryf minder as 2% by tot die toerisme-inkomste van die land. Dit dra egter baie geld by tot die inkomste van die enkele leeuboere.
Die meeste van die Suid-Afrikaners wat aan die peiling deelgeneem het, het ook hul afkeer aan die interaksie met halfmak leeus te kenne gegee.
Hulle het ook aangedui hulle is gekant teen aktiwiteite waar toeriste met leeuwelpies kan speel, saam met leeus kan loop, asook trofeejag en die jag van geblikte leeus.
Audrey Delsink, uitvoerende hoof van die HSI in Afrika, sê in 'n verklaring leeus wat in gevangenskap geteel is en die handel in leeubeendere is 'n klad op Suid-Afrika se naam.
Kwota verhoog
Sy het daarop gewys dat Edna Molewa, minister van omgewingsake, verlede jaar goedkeuring gegee het vir die uitvoer van 800 leeuskelette.
Vanjaar is die kwota, “sonder enige wetenskaplike grondslag”, tot 1 500 verhoog. “Dit is 'n blatante lisensie aan die leeuboere om die diere te slag,” sê Delsink.
Luidens die peiling meen 65% van diegene wat aan die peiling deelgeneem het, die geblikteleeubedryf is skadelik vir Suid-Afrika se internasionale beeld.
Hulle is ook bekommerd dat die newe-aktiwiteit – dié van leeubeendere wat nou na die Ooste uitgevoer word – die vraag na leeus en ander groot katte sal stimuleer.
56% van die respondente is gekant teen trofeejag. Ses uit elke tien het aangedui hulle is gekant teen die jag van halfmak (geblikte) leeus.
77% het gesê hulle stem saam met bewaringslui wat meen die handel in leeuskelette sal die stropery van leeus en ander groot katte stimuleer.
Die navorsers wat aan die peiling deelgeneem het, kom tot die gevolgtrekking dat die geblikteleeubedryf Suid-Afrika se beeld as internasionale toerismebestemming kan ondermyn en dat die land tot R54,51 miljard oor die volgende dekade as gevolg daarvan kan verloor.
Delsink sê die openbare mening en die wetenskaplike ontleding wys dat die bedryf baie ongewild is.
GEBLIKTE LEEUS
• Daar is tussen 6 000 en 8 000 leeus in gevangenskap in Suid-Afrika. Hulle word op 260 aanlegte (soos leeuplase) in hokke aangehou.
• Daar is minder as 3 000 wilde leeus in Suid-Afrika. Daar is sowat 20 000 wilde leeus in Afrika oor.
• Die Afrika-leeu is gelys op Aanhangsel II van Cites (die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies). Dit beteken geen lewende leeus mag uitgevoer word nie. Suid-Afrika het egter spesiale toestemming gekry om met die skelette, tande en kopbene van geblikte leeus handel te dryf.
UITVOER VAN DOOIE LEEUS
• Oosterlinge gebruik leeuliggaamsdele as medisyne.
• Viëtnam en Laos is die grootste invoerders van leeuskelette.
• Amerika is die grootste invoerder van leeutrofeë.
Oosterlinge gebruik leeuliggaamsdele as volg:
• Beenwyn: as kalsiumaanvulling, as seksuele opkikker en om verlamming teen te werk.
• Pleisters teen rumatiek word van leeubeendere gemaak.
• Penis: as kuur teen impotensie.
• Vet: kuur teen naarheid, om bloeding te stop nadat 'n slagoffer deur 'n hond gebyt is.
• Oogballe: kuur teen epilepsie, malaria en senuagtigheid, veral in kinders.
• Gal: word gebruik as medikasie wanneer 'n kind stuiptrekkings kry.
• Vleis: as 'n tonikum wat energie gee.
• Kloue: word gebruik om artritis teen te werk.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie