'Gebruik my as getuie'
In 'n nuwe verwikkeling in die Fishrot-viskwotaskandaal, is die prokureur en vermeende betaalmeester, mnr. Marén de Klerk, se verklaring aan die media gelek.
Mathias Haufiku en Ronelle Rademeyer – Die prokureur mnr. Marén de Klerk pleit in sy beëdigde verklaring wat verlede week aan die media gelek is en waarin hy vertel hoe die samesweerders in die Fishrot-skandaal te werk gegaan het, om hom 'n staatsgetuie te maak.
Dié verklaring het hy verlede jaar uit Suid-Afrika aan die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) voorgelê.
De Klerk vertel in fyn besonderhede hoe hy met die sleutelspelers in die Fishrot-sage ontmoet het, maar ontken in sy verklaring dat hy dié bedrog- en korrupsieskema waarin hy 'n belangrike rol gespeel het, uitgedink het.
Hy voer aan daar is ander prokureurs gebruik om betalings “onder die klandestiene dekmantel van hul trustrekenings” te maak.
De Klerk, wat in die verlede al op die etiekkomitee van die Prokureursorde van Namibië gedien het, beskuldig die vismagnaat, mnr. AJ (Adriaan) Louw, dat hy die skepping van Seaflower Pelagic Processing (SPP) saam met die destydse justisieminister, mnr. Sacky Shanghala, en die gewese voorsitter van die National Fishing Corporation of Namibia (Fishcor), James Hatuikulipi, uitgedink het.
Louw is die hoof uitvoerende beampte van African Selection Trust SA Group (AST), wat 60% van die aandele in SPP besit. Die ander 40% behoort aan Fishcor.
Louw het gister by navraag opnuut ontken dat hy enige aandeel in die beweerde sameswering gehad het.
“Ek het nie een sent van iemand gevat nie,” sê hy. Hy voer ook aan hy het Shanghala eers ontmoet nadat SPP klaar gestig was.
“Ons (AST) het op die toneel gekom toe die tafel klaar gedek was en drie ander voor ons nie wou aansit nie. Ons het die geld en die kennis gebring en die fabriek gebou. Ons het N$790 miljoen belê. En daarna is ons met niks anders as minagting behandel,” sê hy oor die ooreenkoms ingevolge waarvan SPP vanaf 2018 jaarliks 50 000 ton se maasbankerkwota sou kry. “Sowat 95 000 ton van die ooreengekome 150 000 ton wat SPP die afgelope drie jaar moes ontvang, het nie gerealiseer nie.”
“Hulle (Fishcor) was oorstelp van vreugde dat daar eindelik iemand is wat bereid was om geld op die tafel te sit om die verwerkingsaanleg te bou,” sê hy, en voeg by drie ander beleggers is voor hom genader.
SWAPO se 'MANNEKLUB'
De Klerk sê in sy verklaring hy het nie gehuiwer om met Shanghala besigheid te doen nie, want hy “wou nader aan Swapo se 'manneklub' kom” omdat dit sy finansiële vooruitsigte kon verbeter het.
Hy sê verder die maatskappy Celax Investments One is gebruik om betalings vir die finansiering van Swapo se 2019-verkiesingsveldtog te maak.
Volgens hom het Shangala en Hatuikulipi aan hom gesê pres. Hage Geingob het aan hulle opdrag gegee om 'n struktuur te vestig vir die bestuur en verspreiding van geld wat deur ondersteuners aan Swapo betaal is.
“Shanghala het vir my gesê die Baas het Hatuikulipi aangestel as sy ekonomiese raadgewer om 'n pasgemaakte struktuur te ontwerp om hierdie bydraes te bestuur en te versprei,” lui sy verklaring. Die voorgestelde naam vir die struktuur was Ndilimani, die naam van Swapo se kultuur- en musiekgroep.
De Klerk sê hy het besluit om nie sy kommer hieroor met Shanghala en Hatuikulipi te deel nie uit vrees dat dit sy verhouding met hulle, wat vir hom tot winsgewende finansiële geleenthede kon lei, sou versuur.
Hy voer aan hy het nie geweet die geld wat aan Celax Investments One oorbetaal is, was “gesteelde geld” nie.
Celax Investments One, sê De Klerk, is gebruik om geld aan leiers in die Swapo-struktuur, die Ndilimani-kultuurgroep en diensverskaffers van die party te betaal. Swapo het sedert die bom oor Fishrot gebars het, ontken dat hy by dié vermeende bedrogspul met viskwotas gebaat het.
Louw hou vol hy was onbewus daarvan dat Celax Investments One, wat deur AST gestig is met die doel om in die toekoms aandele aan swart ekonomiese bemagtigingsvennote toe te ken, deur De Klerk gebruik is om sowat N$75,6 miljoen te was.
“Die doel van Celax was om 33 persent van die aandele in Seaflower te 'parkeer' vir wanneer die NEEEF-wetgewing (Nuwe Raamwerk vir Gelyke Ekonomiese Bemagtiging) van krag word,” verduidelik Louw.
Celax is op 24 Januarie 2017 met De Klerk as enigste aandeelhouer geregistreer. Dít blyk uit 'n forensiese ondersoek wat deur ProNam Forensic Services in opdrag van AST gedoen is en waarvan afskrifte verlede jaar aan die media, asook aan mnr. Leon Jooste, minister van staatsondernemings, en dr. Albert Kawana, minister van visserye en mariene hulpbronne, gegee is.
“Marén moes elke jaar 'n beëdigde verklaring onderteken dat hy Celax dormant sou hou,” sê Louw. Hy sê dit is vir hom duidelik uit De Klerk se gelekte eedsverklaring dat die kwota wat kontraktueel na SPP moes gaan, deur hulle (Hatuikulipi en kie.) gesteel is.
“Ek sal na die ACC toe moet gaan en sê hulle het ons kwota gesteel. Die ander ding wat duidelik is uit Marén se verklaring, is dat hy die privilegie wat tussen 'n prokureur en sy kliënt bestaan, verbreek het. Ons (SPP) sal 'n klag by die Prokureursorde (Law Society of Namibia) moet indien,” het Louw verder gesê.
Volgens De Klerk het hy sowat N$4 miljoen se fooie verdien vandat hy in 2017 as 'n direkteur van SPP aangestel is.
Hy het saam met Louw, Hatuikulipi, asook mnre. Johan Breed (finansiële direkteur van AST) en Mike Nghipunya, hoof uitvoerende beampte van Fishcor, in dié vismaatskappy se direksie gedien.
De Klerk was tot vroeg in Januarie 2020 ook Seaflower se prokureur.
Hy sê sy prokureursfirma, DHC Incorporated, is verlede jaar deur die owerhede beveel om Swapo, Hatuikulipi en Shanghala se geld wat nog in die trustrekening was, van die res van die geld in die rekening te skei.
PRES. GEINGOB
Intussen het die presidensiële woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, by navraag gesê die saak het 'n sensitiewe punt bereik, want die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, moet 'n beslissing maak.
“Die president het in die verlede al gepraat oor dié uiters onregverdige en ongelukkige bewerings en insinuasies teen hom in die saak waarna u verwys. Die president handhaaf sy standpunt in hierdie verband,” was Hengari se reaksie.
“Die president wil nie die regspleging in gevaar stel of beïnvloed deur openbare uitsprake in die media nie. Die president sal, wanneer regsreëls en etiek dit toelaat en op 'n gepaste tydstip, die ongelukkige insinuasies, vermoedens en interpretasies breedvoerig bespreek met die oog daarop om die valsheid daarvan te ontbloot,” het hy gesê.
'n WhatsApp-stemnavraag gister aan De Klerk oor sy gelekte verklaring, het onbeantwoord gebly. Dit is wel ontvang en daar is na die stemboodskap geluister.
De Klerk bevind hom waarskynlik steeds in die Wes-Kaap. Hy het 'n strandhuis aan dié provinsie se westelike kus.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie