Gedeelde water
Gedeelde water

Gedeelde water

Ronelle Rademeyer
Die tafeldruif- en dadelbedryf op die oewer van die Oranjerivier in die verre Suide is net so belangrik vir die nasionale ekonomie as bees- en lamsvleis.

Die produsente by Aussenkehr het in die 2017-’18-seisoen op sowat 2 500 ha N$636 miljoen dollar se druiwe vir die uitvoermark verbou.

Die afgelope seisoen is 6,8 miljoen kartonne tafeldruiwe van 4,5 kg elk uitgevoer.

Desert Fruit Namibia is byvoorbeeld een van net ’n handjie vol dadelprodusente in die suidelike halfrond en beskik oor 22 000 palmbome wat uiteindelik 1 000 ton dadels sal uitvoer.

Die klimaat langs die Oranjerivier is sodanig dat ons tafeldruiwe die Europese markte bereik voor ander uitvoerders se druiwe gereed is.

Verder skep hierdie oewerboere werk vir tussen 20 000 en 25 000 mense in ’n yl bevolkte gebied van die land met byna geen ander inkomstegeleenthede nie.

Daarom is dit uiters belangrik dat die Suid-Afrikaanse regering met die Namibiese regering saamstem oor die noodsaaklikheid van volhoubare watervoorsiening stroomaf van die opgaardamme in die Oranjerivier. Ons oewerboere se oorlewing hang daarvan af.

Twee weke gelede was die rivier sonder water en wingerde, dadelboorde en groentebeddings kon nie bespoei word nie. Die syferwater wat met pompe onttrek is, was van ’n te swak gehalte om te gebruik.

Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, het oewerboere verlede week verseker die regering besef die erns hiervan en is met Suid-Afrika in gesprek.

Daardie gesprekskanaal moet oop bly.

Ter wille van die Namibiese ekonomie móét water tydig uit die damme vrygelaat word.

Die Burger, 27 Februarie 2019

Sasol-besoedeling vra ingryping

Volgehoue aantygings dat Sasol aandadig is aan die besoedeling van die Vaalrivier verg dringende ingryping. Nie net van die owerhede nie, maar ook van die energiereus self.

Suid-Afrika is ’n waterarm land en dié saak moet nou benader word met die erns wat dit verdien.

Eers is voor die Menseregtekommissie se ondersoek na die besoedeling van die rivier getuig dat Sasol se aanleg in Sasolburg verantwoordelik is vir die storting van rioolafval. Nou is gevaarlike gifstowwe van die Secunda-aanleg ook ter sprake.

Die organisasie se senior leierskorps moet so gou moontlik op die aantygings reageer, aandui of hulle ’n onafhanklike forensiese ondersoek sal laat begin, en watter stappe intussen gedoen word.

Van ’n werklik verantwoordbare instelling, wat bekommerd is oor die rivier, soos hy verklaar, sou ’n mens meer verwag.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer