Gedempte storm

Ondanks gebrekkige data lyk dit of die coronavirus anders en moontlik met ’n minder dodelike uitkoms in Afrika versprei, sê wetenskaplikes in ’n studie in Science.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die coronavirussiekte 2019 (Covid-19) het vinnig en op groot skaal na die meeste lande in die wêreld versprei. Die gevolg was betekenisvolle sterftes in Europa en die Verenigde State van Amerika, asook in talle hoër-middelinkomste lande in Suid-Amerika en Asië.

Kundiges het voorspel dat miljoene mense in Afrika sou sterf omdat die vasteland swak vaar op die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) se menslike ontwikkelingsindeks. Meer as vier maande nadat die eerste gevalle in Afrika opgeteken is, is die voorkoms van die siekte en die dodetal egter steeds laag.

In ’n artikel wat op 7 Augustus in die gesaghebbende wetenskapstydskrif Science verskyn het, skryf mediese wetenskaplikes verbonde aan verskeie mediese instansies in Afrika en elders in die wêreld, dit is onduidelik of die vasteland werklik ’n betekenisvolle getal gevalle en sterftes gespaar is. Die opskrif van die artikel lui “COVID-19 in Africa: Dampening the storm?”.

Hulle meen die Covid-19-ondervinding in Afrika moet bestudeer word aan die hand dié vasteland en ander lande se betroubare aanmelding en doodsregistrasie, hoe streng die inperkings is, demografiese inligting, sosiokulturele aspekte, omgewingsblootstelling en die immuunstelsel van die inwoners.

Afrika staar reusegesondheids- en sosioëkonomiese uitdagings in die gesig wat die snelle verspreiding van Covid-19 eintlik moes bevorder het, meen hulle. Dit sluit in swak gesondheidstelsels, hoë bevolkingsgetalle op sekere plekke, armoede en onhigiëniese omstandighede.

Bevolkingsdigheid in die meeste Afrikahoofstede soos Dakar, Abidjan en Lagos is aansienlik hoër as in byvoorbeeld New York. Al is gemeenskapsoordrag van die siekte maande gelede al in baie Afrikastede aangemeld, is die voorspelde aantal gevalle en sterftes nie waargeneem nie.

Lae voorkomsgetalle word gewoonlik aan onvoldoende toetsing toegeskryf, sê hulle en voeg by baie Afrikalande het egter vroeg al toetsing geïmplementeer en gegrond op die Our World in Data-databasis, is meer toetse as die aantal positiewe gevalle in Afrika uitgevoer as in ander lande in soortgelyke fases van die pandemie se ontwikkeling.

Wat die dodetal betref, wys hulle daarop min funksionerende burgerlike registrasiedienste en gevolglik statistiek bestaan op die vasteland. Dit laat vrae ontstaan oor die betroubaarheid van die data oor sterftes. Potensiële onder-aanmelding van sterftes sal nie uniek aan Afrika wees nie, maar dit kan die marge vir foutering vergroot, sê hulle in die artikel.

MAATREëLS

Tot dusver het Afrikalande nie akute gesondheidskrisisse aangemeld nie. Ouderdomsdata is egter nodig om die Covid-19-situasie in Afrika ten volle te begryp en die geleentheid te skep sodat die gepaste maatreëls getref kan word.

Maatreëls soos reisbeperkings, aandklokreëls en die sluiting van skole is in vergelyking met ander lande vroeg in Afrika ingestel; in baie gevalle voordat daar enige gevalle aangemeld is. Hierdie vroeë reaksie het tot minder ingevoerde gevalle gelei en ook binnelandse verspreiding verminder, sê hulle.

Sodoende is lande genoeg tyd gegun om hul beperkte gesondheidstelsels voor te berei vir diagnose en om strategieë vir kwarantyn, kontakopsporing en sosiale afstandshandhawing op ’n vasteland wat reeds ondervinding van hierdie praktyke opgedoen het om epidemies soos Lassakoors en Ebola te beheer.

Al is dit moontlik dat die vroeë inperking in Afrika bygedra het tot die stadige verspreiding, is die gepaarde maatreëls in baie lande nie nagekom nie. Baie mense werk in die informele sakesektor, soos by tradisionele markte, wat streng inperkingsmaatreëls onmoontlik maak om te implementeer.

Meer onlangs is druk op sekere regerings in Afrika uitgeoefen om die inperkingsmaatreëls te verslap om byvoorbeeld gemeentelike gebede in moskees in Senegal toe te laat. Dit is onbekend of die verslapping van hierdie maatreëls tot ’n toename in gevalle sal lei en of ander faktore ook ’n rol speel.

STERFTES

Die meerderheid Covid-19-verwante sterftes kom onder ouer mense voor. Afrika het ’n betreklike jong bevolking met ’n mediaanouderdom van 19,7 jaar vir die vaseland in vergelyking met die VSA se 38,6 jaar.

Hulle wys daarop gegrond op die wêreldwye ouderdomspesifieke sterftevoorkoms vir Covid-19 en die ouderdomsdemografie in Afrika, sou verwag word sterftes in Afrika sal vier keer minder wees as in Europa en die VSA, en nie net 40 persent minder soos nou die geval is nie.

Geen kollektiewe data oor ouderdomspesifieke gevalle of sterftes is egter vir die vasteland beskikbaar nie. Daar is betekenisvolle intergenerasie-vermenging in Afrika, en met meer gevalle van asimptomatiese infeksies by jongmense, kan dit ’n kwessie van tyd wees voordat aansienlik meer gevalle en sterftes aangemeld word, sê hulle.

Alternatiewelik kan die vinnige ontwikkeling van kudde-immuniteit onder die jeugdige bevolking tot minder ernstige gevalle lei. Data verkry uit teenliggaampie-toetse behoort aan te dui of oordrag meer wydverspreid met ’n hoë mate van asimptomatiese en ligte gevalle in Afrika as elders in die wêreld is.

GENETIKA

Die genetiese karaktereienskappe van die ernstige akute asemhalingsindroom coronavirus 2 (SARS-CoV-2) en menslike genetika kan onder die redes vir die lae voorkoms van ernstige Covid-19-gevalle in Afrika wees. Al is die relatiewe bydrae van Afrika tot die SARS-CoV-2 GISAID-databasis (’n wêreldwye inisiatief vir die deel van alle griepdata) klein, is die een wat in Afrika aangetref word, verteenwoordigend van die verskillende voorkomste van SARS-CoV-2 wat op ander vastelande aangetref word.

Die wetenskaplikes meen dit is daarom onwaarskynlik dat stamme van SARS-CoV-2 in Afrika minder virulent is. Boonop maak die sterftes van Afro-Amerikaners ’n buite verhouding groot hoeveelheid van sterftes in die VSA uit. Dis gevolglik onwaarskynlik dat die laer mortaliteit van Covid-19 in Afrika aan genetiese faktore toegeskryf kan word.

Nietemin streef die Covid Menslike Genetika-konsortium daarna om vas te stel of genetika ’n rol in die wêreldwye voorkomspatrone van die siekte speel.

IMMUNITEIT EN DIE OMGEWING

SARS-CoV-2-infeksies lei tot heterogene uitkomste. Ongeveer 80 persent van simptomatiese gevalle is lig tot matig, teenoor ongeveer 20 persent van mense met Covid-19 wat ernstige asemhalingsiekte met ’n hoë sterftesyfer ontwikkel. Die ontwikkeling van ’n doeltreffende, aanpasbare immuunstelsel kan virale infeksies beperk. ’n Onbeheerde aktivering van aangebore immuniteit kan egter tot ’n sitokienstorm en hiperinfeksie in die longe lei, wat weer aanleiding tot akute asemhalingsnood-sindroom (ARDS) en veelvuldige orgaanversaking kan lei. Om in staat te wees om virale infeksies vroeg te voorkom of om uitermatige inflammatoriese reaksies te beperk, is waarskynlik komplementêre meganismes om ’n ernstige siekte te voorkom, sê hulle.

Die meeste simptomatiese Covid-19-pasiënte wat herstel, het virus-spesifieke neutraliserende teenliggaampies, asook spesifieke CD4+ en CD8+ T-sel-reaksies ontwikkel. Die doeltreffende vermoë van hierdie aanpassende reaksies om op virale infeksies te reageer, hang af van veelvuldige faktore insluitende vorige of herhalende infeksies met ander patogene.

Byvoorbeeld: Teenliggaampies wat die vier menslike coronavirusse wat “gewone verkoues” veroorsaak, teiken, kan oorkruis reageer en SARS-CoV-2 in mense neutraliseer en voorheen bestaande kruis-reaktiewe T-selle kan in mense aangetref word, wat nie aan SARS-CoV-2 blootgestel is nie. Die wetenskaplike sê in die artikel dit dui daarop dat vorige blootstelling aan verwante menslike coronavirusse immunologiese kruisreaksie kan meebring.

Daar is aansienlike verskille in omgewingsblootstelling in Afrika in vergelyking met Europa en die VSA. Nie-oordraagbare siektes, soos kardiovaskulêre siektes, vetsug en tipe 2-diabetes, is risikofaktore vir ernstige Covid-19. Hierdie omgewings- en gedragsgedrewe toestande kom toenemend in stedelike gebiede in Afrika voor. Die meeste Covid-19-sterftes in Afrika is onder ouer mense met nie-oordraagbare siektes.

Siektes soos MIV, tuberkulose, malaria en ander asemhalingsinfeksies, of dié wat deur helminte (parasitiese wurms) veroorsaak word, kom algemeen in Afrika voor. Daar is egter tans baie min inligting oor of, en tot hoe ’n mate hierdie infeksies Covid-19 se siekte-ontwikkeling beïnvloed.

Daar is toenemende erkenning dat die immuunstelsel nie net deur genetika nie, maar ook deur omgewingsfaktore soos die blootstelling aan mikro-organismes en parasiete gevorm word. Dit onderrig die immuunstelsel om die liggaam teen aanvallende patogene te beskerm. Dit is nie net spesifiek nie, maar ook onspesifiek deur byvoorbeeld “onderrigde immuniteit” wat die reprogrammering van aangebore selle betref. Met sekondêre blootstelling aan ’n patogeen toon dit sterker reaksie of ’n “virtuele geheue”. Die virtuele geheue in T-selle kan lei tot versterkte antivirale weerstand.

Hulle meen mense in Afrika se groter blootstelling aan mikro-organismes en parasiete, berei hulle immuniteitstelsels voor vir beter beheer oor SARS-CoV-2. Hierbenewens kan vroeë en chroniese blootstelling aan patogene wat tot meedoënlose immuunselaktivering in geharde omstandighede lei, sterk regulatoriese immuunreaksies meebring wat uitermatige infeksies teenwerk, sê hulle.

Verder kan die mikrobes in die lugweg en ingewande ’n belangrike rol in die voorkoming van potensiële lugweginfeksies en verminderde inflammasie speel.

Volgens hulle kan die bekende variasies in mikro-organismes oor geografiese gebiede ook bydra om die siekte minder ernstig te maak en behoort bestudeer te word.

PAD VORENTOE

Hulle beveel aan Afrika moet deel van die padkaart vir Covid-19-navorsing wees. Al is daar nie beskikbare data oor die immuunreaksie in Afrika-pasiënte met Covid-19 nie, dui studies op duidelike verskille in die aktivering, inflammatoriese gedrag en geheueprofiele van die immuunselle. Dit geld nie net Afrikane teenoor Europeërs nie, maar tussen Afrikane met wisselende vlakke van blootstelling aan mikroörganismes en parasiete.

Dit moet ondersoek word of die verskil in immunologiese profiele belangrik is vir die uitkoms van Covid-19 in Afrika, beveel hulle aan.

Daar is meningsverskille oor of die patroon van SARS-CoV-2 se verspreiding in Afrika verskil van hoe dit in die VSA en Europa versprei. Tog, sê hulle, wil dit ondanks die skaarste aan data voorkom asof die virus anders en met minder dodelike uitkomste in Afrika versprei.

Daar was tot dusver beperkte toetsing van asimptomatiese gevalle, asook vir die aanwesigheid van teenliggaampies. Om die rede is dit nie bekend of vroeë ingrypings geslaag het om oordrag te voorkom en of daar verskille in vatbaarheid tussen bevolkings of verskillende gebiede is nie.

Hulle meen die Covid-19-pandemie kan die noodsaaklikheid vir die implementering van wydverspreide gesondheidshulpmiddels, soos hoë gehalte data, akkurate diagnostiek vir na- en opsporings, goeie kommunikasie en ’n doeltreffende entstof beklemtoon.

Laastens meen hulle die vroeë toetsing van entstof in verskillende streke van Afrika is noodsaaklik omdat die hoë blootstelling van patogene sommige reaksies op die entstof kan beperk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!