Gedenkdag vir 1904-1908 se gruwels nodig
Gedenkdag vir 1904-1908 se gruwels nodig

Gedenkdag vir 1904-1908 se gruwels nodig

Adolf Kaure
Die volksmoord in Namibië wat in 1904 begin het, was die wêreld se eerste volksmoord van die 20ste eeu.

Volgens geskiedkundige rekords is tussen 24 000 en 100 000 Ovahereros saam met 10 000 Namas en ’n onbekende getal San gedurende die jare 1904 tot 1908 uitgemoor.

Dit is ook bekend dat die eerste fase van die uitroeiing gekenmerk is deur wydverspreide sterftes weens hongersnood en dehidrasie, deurdat Duitse troepe die Ovaherero verhinder het om die Namibwoestyn te verlaat.

Duisende Ovahereros en Namas is ook in konsentrasiekampe aangehou, waar groot getalle weens siekte, mishandeling en uitputting omgekom het.

Onmenslike praktyke soos mediese eksperimentering om wetenskaplike data vir rassistiese motiewe te versamel, is ook gedurende hierdie periode uitgevoer.

Dit is kommerwekkend dat tot vandag toe geen datum op die Namibiese kalender opsy gesit is vir die herdenking van hierdie wreedaardige gruweldade en misdade teen die mensdom te gedenk nie.

Die ideale datum sou 2 Oktober wees – die dag in 1904 waarop Lothar von Trotha die opdrag vir die uitwissing van alle Ovaherero-mense gegee het.

Ek betwis nie die feit dat Cassingadag ’n belangrike vakansiedag is nie, maar in vergelyking met die volksmoord van 1904 was die sterftetal veel kleiner. Op 4 Mei 1978 is volgens die geskiedenisboeke nagenoeg 800 mans, vroue en kinders by Cassinga in Angola tydens die bosoorlog vir Namibië se onafhanklikheid uitgewis.

Sommiges mag aanvoer dat Heldedag (26 Augustus) getel kan word om almal te gedenk wat hul lewens op die spel geplaas en gesterf het vir die land se vryheid wat ons almal vandag kan geniet.

Die omvang van die onvergeetlike boosheid en skande wat vroeg in die 20ste eeu in Duits-Suidwes-Afrika afgespeel het, regverdig egter ’n dag op sy eie om die besondere helde en heldinne van die 1904 volksmoord in herinnering te hou.

Mans en vroue is vir geen goeie rede nie vermoor en in vlak grafte begrawe, insluitend hier op my tuisdorp Swakopmund. Nie net die dooies nie, maar ook hul nageslagte, verdien om te sien dat hulle in ’n waardige rusplek geplaas word.

Swakopmund se munisipaliteit moet sy sokkies optrek en hierdie mense herbegrawe.

As jy die Swakopmund gedenkbegraafplaas besoek, sal jy sien dat die doodkiste nie eens behoorlik bedek is en dat die grafte deur die wind oopgewaai word.

Op sekere plekke daar sal jy selfs op los beendere van hierdie Namibiese helde en heldinne afkom . . . ons voorvaders. Dit is nie aanvaarbaar nie.

Die Volksmoordvereniging van Namibië, gelei deur Laidlaw Peringanda, doen elke jaar die moeite om hierdie vlak grafte skoon te maak en te herstel. Hulle doen dit op 10 Desember, Wêrelddag vir Menseregte. Hy en sy helpers kom egter die kapasiteit kort om dit doeltreffend te doen en in die eerste plek is dit ook nie hul verantwoordelikheid nie.

Ter afsluiting doen ek ’n beroep op die Namibiese regering en beleidmakers om 2 Oktober as ’n nasionale vakansiedag te verklaar om die volksmoord van 1904 te gedenk.

Ek rig ook ’n pleidooi aan Swakopmund se munisipaliteit om meer moeite te doen om die vlak grafte by die Gedenkbegraafplaas te herstel.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!