Gedugte SA regspan vir Esau, Shanghala

Die vervolgingsratte vir die ses verdagtes in die visskandaal bekend as Fishrot het begin draai.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Twee senior Suid-Afrikaanse advokate wat tot onlangs nog in die buurland vir oudpres. Jacob Zuma opgetree het in die korrupsiesaak teen hom, is in Namibië om vir oudministers Bernhard Esau en Sacky Shanghala te verskyn wanneer hulle vanoggend om borgtog aansoek doen.

Adv. Mike Hellens, SC, tree vir mnr. Esau, voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne op, en adv. Dawie Joubert, SC, tree vir mnr. Shanghala, die voormalige minister van justisie op.

Hulle is beskuldigde 1 en 2 in die Fishrot-saak waarin hulle van korrupsie, geldwassery en bedrog verdink word.

Beskuldigdes 3 tot 6 is mnre. James Hatuikulipi, Ricardo Gustavo (beide was vroeër in senior bestuursposte by Investec Asset Management Namibia), Tamson “Fitty” Hatuikulipi en Pius Mwatelulo.

Fitty is Esau se skoonseun.

Die ses beskuldigdes is vroeg gisteroggend vanaf die Seeis-polisiekantoor na die landdroshof in Windhoek gebring, waar hulle kort voor 13:00 vlugtig verskyn het.

Hulle is onder polisiebewaking in die gang aan die agterkant van die landdroshof na die hofsaal gelei. Deftig geklee in pakke het hulle buite die hof aangetree sodat die boeie van hul hande verwyder kon word.

Die media het van vroeg gisteroggend af in groot getalle op hul verskyning gewag. In ’n stadium het chaos in die gange by die landdroshof geheers en mans en vroue is later aangesê om in twee rye aan te tree sodat hulle deursoek kan word voordat hulle toegelaat is om die hofsaal binne te gaan.

Die saak teen die ses is na vanoggend 09:00 uitgestel wanneer hulle formeel om borgtog aansoek sal doen.

Die bom oor die sogenaamde Fishrot-skandaal het op 12 November in die buitelandse media gebars. Dit hou verband met die toekenning van viskwotas aan Namgomar Pesca (Namibia) Pty Ltd, asook verskeie ander mense en entiteite in Namibië, Ciprus, Ysland, Angola, Noorweë, Mauritius en die Verenigde Arabiese Emirate.

Intussen het ’n Windhoekse prokureur gister aan Republikein gesê die dagfooie van advokate van Hellens en Joubert se kaliber beloop tussen N$60 000 en N$100 000.

As hul borgtogaansoek in die landdroshof nie slaag nie en hulle appelleer in die hoërhof, kan die regskoste net om borgtog te kry tot soveel as N$3 miljoen beloop.

Die bewering is dat die beskuldigdes omkoopgeld van N$150 miljoen van die Yslandse vismaatskappy Samherji vir die toekenning van viskwotas ontvang het.

Hellens en Joubert het Zuma tot vroeër vanjaar verteenwoordig in sy regstryd teen die Nasionale Vervolgingsgesag in Suid-Afrika.

Dit om hom nie te vervolg op korrupsieklagte wat tot die wapenskandaal in die 1990’s terugdateer nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!