Gee Itula vir Swapo tandpyn?

’n Tandeelkundige gee dié jaar die regerende party opdraand, maar of dit die tweederdemeerderheid van Swapo sal knak, moet 27 November nog bepaal.
Denver Kisting
Denver Kisting – “Ek vertrou nie vir dr. Hage Geingob om my tandarts te wees nie.

“Eweneens vertrou ek nie vir dr. Panduleni Itula om my president te wees nie. Man-man in sy baan asseblief. . .”

Dít is een van talle boodskappe wat die kuberruim die afgelope klompie weke bewoon.

Wavragte memes word ook wyd en suid in die sosiale media rondgeslinger in aanloop tot waarskynlik die mees opwindende presidensiële reis wat Namibië sedert onafhanklikwording gesien het.

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) staan bont om te bewys hy is reg vir die verkiesings en plek-plek moes die nasionale kiesliggam homself al verdedig oor omstrede beslissings.

Een van die aankondigings wat onlangs groot drama veroorsaak het, was toe die ECN gesê het hulle het by internasionale regsgeleerdes gaan kers opsteek oor ’n interpretasie van die kieswet.

Volgens dié interpretasie moes almal wat as kandidaat hoop om volgende jaar die Nasionale Vergadering (NV), die land se hoogste wetmakende gesag, te haal en tans ’n regeringspos beklee, bedank.

Selfs diegene wat in die Nasionale Raad (NR) en in streek- of plaaslike owerhede dien, moes die tuig neerlê.

In wat allerweë as ’n verrassingswending gesien is, het Swapo eerste die bevel gehoorsaam. Me. Margaret Mensah-Williams het selfs haar pos as voorsitter van die NR ontruim.

Die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), was aanvanklik onversetlik oor die opdrag, maar het later wel bes gegee.

En dan, vir die eerste keer in die land se geskiedenis, ding ’n onafhanklike kandidaat en ’n politieke nuweling, die tandheelkundige dr. Itula, mee vir die hoogste pos in die land.

Wat sy toetrede tot die politiek nog meer omstrede maak, is dat hy uit die geledere van die regerende party kom.

Trouens, ondanks Swapo se standpunt dat hy deur sy eie toedoen sy lidmaatskap kwyt is, bly dié tandedokter vasbeslote: Swapo het geen gesag om hom uit te skop nie.

’n Magdom kleiner politieke partye beywer hulle sedert onafhanklikwording om ’n paar duisend stemme te werf, sê die politieke ontleder mnr. Graham Hopwood. “Genoeg om miskien een of twee setels in die NV te kry, maar nie om meer ambisieus as dit te wees nie.”

“Gevolglik”, sê Hopwood, “het hulle nog nie sedert onafhanklikheid Swapo se oorheersing uitgedaag nie – naas die Rally for Democracy and Progress (RDP) wat in 2009 ’n klein impak gehad het. In plaas daarvan het hulle eerder stemme onder mekaar verhandel met partye soos die Congress of Democrats (CoD) en die RDP wat opgestyg en toe weggeval het.”

GRONDLOSES MAAK STEM DIK

Omdat die Landless People’s Movement (LPM) onder die nuwe kieswet moes registreer, is daar van hulle verwag om georganiseerd te wees en hul vlerke buite een of twee geografiese grense te sprei, sê Hopwood.

Dit het hulle genoodsaak om landwyd 3 500 handtekeninge te kry om te mag registreer, sê hy. “Dit beteken hulle het ten minste steun op voetsoolvlak oraloor die land en sal hulle help om meer geloofwaardig te vaar.”

Hopwood is van mening die PDM is die enigste opposisieparty wat die afgelope vyf jaar – sedert die vorige NV- en presidensiële verkiesings – daarin kon slaag om ’n openbare profiel te handhaaf. Dit het hulle reggekry deur gereeld verklarings uit te reik of nuuskonferensies te belê, sê hy. “Dit sal hulle ’n goeie kans gee om wyer as hul 2014-steun uit te brei.”

Die meeste ander, soos die National Unity Democratic Organisation (Nudo), All People’s Party (APP) en die United Democratic Front (UDF), steun nog swaar op etniese en streekstemme, sê Hopwood.

Syns insiens val die RDP, die Workers Revolutionary Party (WRP), die Republican Party (RP) en Swanu óf uitmekaar uit óf hulle is meestal onaktief.

Die ontleder meen Swapo se setels in die NV verkeer nie onder ernstige druk nie “ondanks die ekonomiese probleme van die afgelope paar jaar en sorge oor stygende korrupsie. Daar blyk geen opposisieparty te wees wat hul steunbasis kan hap nie.”

Swapo kan dalk bekommerd wees oor ’n lae stempersentasie in die Noorde waar die party baie steun het, sê hy. Sou dit gebeur, kan die LPM in die Suide en die PDM in ander streke dalk stemme wen wat meer NV-setels vir hulle kan beteken.

DR. ITULA SE BUIGING

“Dan is daar die onafhanklike kandidaat, Itula.

“Dit is ’n eerste vir Namibië, en dit is moeilik om te peil watter tipe impak hy kan hê. Baie sal afhang van of hy steun en gehore kan trek in plekke soos Oshakati en Ondangwa. Dan kan steun vir Hage Geingob in daardie stedelike areas onder druk beland.”

Die 87%-steun wat Geingob in 2014 gekry het, was “verbysterend hoog”, sê Hopwood. Dit sal sekerlik afneem, meen hy. “Met hoeveel, hang waarskynlik af van hoe doeltreffend Itula se veldtog is oor die volgende paar weke.”

Die verkiesings oor minder as drie weke loop die gevaar om te onthul presies hoe stamgebonde Namibië steeds is, sê Hopwood. “Dit is veral die geval met Itula se kandidatuur dat sommige mense in die Noorde dalk vir ’n Oshiwambo-kandidaat sal wil stem wat aan Swapo gekoppel is in plaas van Hage Geingob. Dit is ook moontlik dat die LPM goed sal vaar in kleiner gemeenskappe in die Suide, terwyl Nudo en UDF hul steun in hul tradisionele areas sal behou.”

Politieke steun sal derhalwe opnuut versplinter wees, sê Hopwood. “Dit is iets waarteen ons moet waak.”

Hy meen dis jammer dat partye nie van voor af moes registreer nie. Dit sou hulle moes laat bewys dat hul steeds wye steun geniet, sê hy.

WAT Lê IN 'N NAAM?

Hopwood sê die PDM sal altyd beperk wees deur sy verlede.

“Vir baie kiesers is die skakels met voor-onafhankliheidsapartheid te veel en ’n naamsverandering alleen is nie genoeg om hulle te oorreed om vir die PDM te stem nie.”

Sou ’n sterk opposisie ooit in Namibië ontstaan, meen Hopwood dit sal waarskynlik meer organies uit die geledere van jongmense ontwikkel – nie gekoppel aan pre-1990-politiek of uit Swapo nie.

Hoewel dit moontlik is dat die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR) in ’n stadium ’n politieke party sal word, word dié beweging gelei deur mense wat probleme het met die regerende party, sê die ontleder. “Dit wil ook voorkom asof hulle die afgelope jare hul gewilde touch verloor het. Die toename in onafhanklike kandidate by volgende jaar se streekraadsverkiesings kan daarop dui dat mense op soek is na alternatiewe, maar nie seker is oor die politiekepartymodel nie – veral in die lig van die ervarings met CoD en RDP.”

Swapo, sê hy, sal ná 27 November die politieke voorbok bly “hoewel dié verkiesings toon mense soek meer en meer alternatiewe, is dit onduidelik hoe dit sal uitspeel in terme van partypolitiek”.

Die politieke joernalis Edward Mumbuu meen, in sy persoonlike hoedanigheid, partye soos die CoD, RDP, APP en LPM het hul ontstaan te danke aan óf protes teen die regerende party óf individue wat voel Swapo het hulle te na gekom óf mense wat ontevrede was met die koers wat die party ingeslaan het. “CoD is spesifiek gestig om teen die pres. (Sam Nujoma) se derde termyn protes aan te teken.”

Die RDP is gebore toe wyle mnr. Hidipo Hamutenya van mening was die 2004-Swapo-kongres is gemanipuleer en dat hy onregverdig behandel is, sê Mumbuu.

Mnr. Bernardus Swartbooi en sy goedgesindes het op hul beurt die LPM gestig nadat hy in die pad gesteek is toe hy nie as adjunkgrondminister vir sy baas, mnr. Utoni Nujoma, om verskoning wou vra oor uitlatings rakende hervestiging nie. “Swartbooi het geldige vrae gevra, veral rondom die regering se hervestigingsbeleid, en dis geïgnoreer, waarna hy sy stryd buite Swapo se strukture voortgesit het.”

Die joernalis gee vir Hopwood gelyk oor Itula.

“Die toetrede van die onafhanklike kandidaat is uniek, want anders as die ander, het dr. Itula geweier om afstand te doen van sy Swapo-lidmaatskap. Hy het eerder sy grondwetlike reg gebruik om aan die verkiesing deel te neem, terwyl hy sy Swapo-lidmaatskap behou. Hy veg van binne teen die stelsel.”

Volgens hom het Swapo nie dié toedrag van sake sien kom nie. “Dis ’n onvoorsiene situasie en die Swapo-grondwet verbied nie duidelik ’n lid om as onafhanklike kandidaat aan verkiesings deel te neem nie, selfs al beteken dit om die party se verkose kandidaat uit te daag.”

Wat die geval Panduleni Itula verder interessant maak, is dat hy nie kiesers ontmoedig om vir Swapo as party te stem nie, sê Muumbu. “Dit beteken partylede sal moet tussen hom en Geingob kies, afhangend van wie hulle voel is meer geskik om die land vorentoe te lei.”

Die joernalis meen of die PDM regtig die juk van sy koloniale verlede afgeskud gekry het, sal net die stembus kan wys. “Dit kan egter nie geïgnoreer word nie dat sommige mense van mening was dat die party ’n algehele gedaanteverwisseling moes ondergaan, menende hulle moes nie die tradisionele wit, blou en rooi kleure en logo behou het nie.”

Swapo se inligtingsekretaris, me. Hilma Nicanor, het verlede week gesê hulle word glo oorval deur vrae van Swapo-lede en lede van die publiek oor “Itula se absurde posisie”.

Volgens haar het Swapo geveg vir Namibiërs se reg om politieke partye van hul keuse te stig en by politieke partye wat hulle verkies aan te sluit.

Maar, sê sy, wanneer iemand vrywillig by Swapo aansluit, het daardie persoon die verantwoordelikheid om hulle aan die party se reëls en prosesse te onderwerp.

Sy het groot gewag gemaak dat Swapo se grondwet lede verbied om terselfdertyd aan twee politieke partye te behoort “en, binne konteks, verbied [die party] sy lede om teen die party of benoemde kandidate mee te ding”.

Kragtens die onlangse Swapo-pot – die kieskollege – is pres. Geingob Swapo se enigste presidensiële kandidaat, het Nicanor gesê.

Trouens, sy voorgangers, stigterpres. Sam Nujoma en oudpres. Hifikepunye Pohamba, het ook onlangs opnuut hul steun aan Geingob toegesê om Namibië vir ’n tweede termyn te lei, het Nicanor gesê.

Sou Itula tydens die veldtogte Swapo se naam en sy simbole misbruik, sal die party glo stappe teen hom doen, insluitend om die hoërhof vir ’n interdik te nader, het Nicanor voorts gewaarsku.

Dit het nog nie gebeur nie.

Die PDM het by monde van sy tesourier-generaal, mnr. Nico Smit, gesê die naamsverandering van DTA na PDM is genoodsaak omdat hulle hulself sien as ’n visionêre party “wat sedert 1978 die welstand van Namibiërs op die hart gedra het”.

Hy voeg by: “Die party het gevoel omdat die tyd aanbeweeg het en die politieke situasie in Namibië verander het, was dit tyd vir die party om met daardie veranderde tye te beweeg en het dus gevoel die tyd het aangebreek vir die party om hul naam te verander om die vooruitstrewende gesindheid te weerspieël.

“Die party sien hulself in die toekoms as ’n party wat iets vir elkeen bied – jonk en oud – en weerspieël dit in hul politieke doelwitte en beleidsrigtings.”

Oor Itula meen Smit dis nog ’n aanduiding van die regerende party se onvermoë “om hul ondersteuners regte bevrediging te gee”.

Hy meen Swapo het nog nie die tandarts uitgeskop nie weens vrese dat ’n klomp kiesers saam met hom sal vat...

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!