Gee jou tjop die aarde koors?

'n Suid-Afrikaanse navorser meen verbruikers word om die bos gelei oor die impak van diereproduksie op klimaatsverandering en dat die syfers verdraai word.
Ronelle Rademeyer
Onlangse navorsing toon die verbruiker kan sy impak op die omgewing en aardverwarming verminder deur vleis- en suiwelprodukte uit sy of haar dieet te sny.

Die navorsers Joseph Poore van die Oxford-universiteit in Engeland en Thomas Nemecek van die Agri- Ekologiese en Omgewingsnavorsingafdeling in Switserland, bevind in 'n artikel wat in Science verskyn het voedselproduksie is verantwoordelik vir 26%, of sowat 'n kwart van alle kweekhuisgasse wat vrygestel word.

Hulle het die omgewingsimpak van 40 van die belangrikste voedselsoorte onder­soek, wat deur die grootste hoeveelheid mense op aarde geëet word.

Volgens hulle verskil die omgewingsimpak van verskillende voedselsoorte geweldig baie en is diereprodukte die groot sondaars wat vir 58% van die kweekhuisgasse van voedselproduksie verantwoordelik is.

Om 1 kg beesvleis te produseer word daar 15 kg kweekhuisgasse vrygestel, terwyl die verbouing van 1 kg neute feitlik geen kweekhuisgasse vrystel nie, sê hulle.

Vegetariërs en mense wat sjokolade en koffie vermy wat in reënwoude verbou is nadat die natuurlike bome verwyder is, leef die “groenste” en hoef die minste skuldig te voel oor die skade wat hulle ons planeet aanrig.

Hul bevindings stem ooreen met die aanbevelings van die Interregeringspaneel op Klimaatsverandering (IPCC) oor hoe die mens meer omgewingsvriendelik kan leef.

Die IPCC beveel ook aan dat mense minder vleis, melk, kaas en botter koop en meer plaaslik verboude produkte koop – én minder kos vermors.

Volgens Poore en Nemecek kan die verbruiker die koolstofspoor van sy of haar dieet met twee derdes verklein deur vleis en suiwel te vermy.

“Wat ons eet, is een van die ­belangrikste komponente van die meeste van die wêreld se omgewingsprobleme – van ­klimaatsverandering tot die verlies aan biodiversiteit,” het Poore na aanleiding van hul navorsing aan BBC News gesê.

As verbruikers hul dieet verander, kan hulle hul persoonlike omgewingsvoetspoor aansienlik verklein deur minder water vir produksie te verbruik, besoedeling te verminder en nie by te dra tot die verlies aan woude in die wêreld nie, het hy in dié onderhoud gesê.

“Dit verminder ook die hoeveel grond wat nodig is om kos te produseer met 75%. Dit het 'n reuse-impak, veral as dit wêreldwyd toegepas word.”

OMVANGRYK

Poore en Nemecek het die hoeveelheid kweekhuisgasse wat vrygestel word, asook die hoeveelheid grond en vars water wat vir produksie nodig is, ondersoek.

Hulle het dit egter nie daar gelaat nie, maar ook vasgestel wat gebeur tydens die verwerking, verpakking en vervoer van daardie produkte tot waar die verbruiker dit koop.

Hul ondersoek het nagenoeg 40 000 plase, 1 600 verwerkers, verskillende ­verpakkingsmateriale en -metodes, asook die hantering van produkte deur 'n ver­skeidenheid kleinhandelaars ingesluit.

“Die produksieprosesse wat aangewend word om die 7,6 miljard mense kos te gee en die tipe diëte wat hulle volg, plaas 'n enorme las op die grond- en waterekostelsels. Dit put waterbronne uit en vuur klimaatsverandering aan.

“Dit is egter baie moeilik om 'n ­oplossing te vind wat doeltreffend is vir die uit­gebreide en diverse reeks produsente wat die wêreld se landbousektor verteen­woordig,” sê hulle in die navorsingsartikel.

“Nagenoeg 570 miljoen plase ­produseer voedsel in verskillende klimaats­omgewings en grondtipes en hulle gebruik verskillende produksiemetodes,” was hul bevinding.



VERDRAAI

Prof. Michiel Scholtz, veekundige en spesialisnavorser by die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Dierevoeding en -produksie in Suid-Afrika, meen daar is 'n ander kant van die saak en ­verbruikers word om die bos gelei.

Hy sê baie van die syfers en statistieke wat deur die internasionale gemeenskap gebruik word om verbruikers van hul rooivleis-eetgewoontes te laat afsien, word verdraai of is bloot verkeerd.

Hy sê onder meer die persentasies moet in perspektief gesien word. Landbou se bydrae tot kweekhuisgasse in nywerheidslande is minder as 6% bloot omdat ander sektore se bydrae besonder hoog is. In nienywerheidslande kan die landbou se bydrae 40% tot 50% wees, maar die werklike kweekhuisgasse kan baie minder wees as die 6% van nywerheidslande.

Só het hy in 'n onlangse Grootplaas-onderhoud op kykNET se Die GROOT Ontbyt sy standpunt oor die koolstof- en watervoetspoor van diereproduksie verduidelik:

Jy sê om bloot persentasies aan te haal, maak nie sin nie. Hoekom sê jy so?

Wel, in nywerheidslande is die landbou se bydrae tot kweekhuisgasse minder as 6%, bloot omdat die bydrae van hul energie, mynbou- en vervaardigingsektore tot kweekhuisgasse besonder hoog is.

In die nienywerheidslande kan die bydrae van landbou 40% tot 50% beloop, maar die werklike bydrae kan baie laer wees as die 6% van nywerheidslande.

'n Vermindering van 10% in die skadelike gasse kan in die energie- en mynbousektore baie meer beteken as 'n vermindering van 10% in landbou se klein bydrae van 5% tot 10%.

Die bevordering van 'n vleislose Maandag onder verbruikers gaan ook nie veel help nie, veral omdat ander proteïene dan geëet gaan word, wat dalk 'n groter koolstofspoor het.



Hoekom voel jy so sterk oor die ­beskuldigings teen diereproduksie?

Wel, die belangrikheid van veeboerdery moet nie onderskat word nie. Die meeste van die wêreld se natuurlike weidings bevat baie vesel. Net herkouers kan die vesel omskakel in hoë gehalte ­proteïene soos melk en vleis, wat deur die mens benut kan word.

Ten spyte van die belangrike rol wat herkouers speel in die voedselvoorsiening vir die mens, word hulle uitgesonder en word beweer hulle produseer groot hoeveel­hede kweekhuisgasse, wat tot klimaatsverandering bydra.



Herkouerdiere produseer tog 'n groot hoeveelheid metaangas. Skep dit nie 'n probleem nie?

Die rol wat metaan vanweë diere­produksie op aardverwarming het, word grootliks oordryf.

Die belangrikste kweekhuisgasse is:

• Koolstofdioksied – 49%

• Metaan – 18%

• Nitraatgasse – 6%

Die belangrikste bronne van metaangas is:

• Vleilande – 22%

• Gas- en steenkoolontginning – 19%

• Fermentasie in die rumen deur herkouers – 16%

• Rysverbouing – 12%, (maar niemand skree “eet minder rys nie”)

• Veld- en bosbrande – 8%

• Stortingsterreine – 6%

• Diere-afval, insluitende mis – 5%

Met dié inligting kan ons 'n eenvoudige sommetjie maak:

Herkouers dra 21% by tot die wêreld se metaangasproduksie (16% afkomstig van fermentasie en 5% van afval en mis). Maar metaangas maak slegs 18% van die kweekhuis gasse uit.

As mens dus na 21% van 18% kyk, is herkouers se bydrae tot kweekhuis­gasse minder as 4%.

Nou gaan daar onmiddellik geargumenteer word dat metaangas se vermoë om hitte te hou 23 keer groter as die van ­koolstofdioksied is.

Die atmosferiese leeftyd van metaangas is egter slegs 12 jaar teenoor die 100 tot 200 jaar van koolstofdioksied.

Hoewel die effek van metaangas groter is, duur die effek baie korter. Hierdie is een van die aspekte wat dikwels geïg­noreer word.

Hoe belangrik is diereproduksie vir ­Suider-Afrika?

In Suid-Afrika is ongeveer 84% van die landoppervlak beskikbaar vir boerdery, maar net 13% daarvan is bewerkbaar. So die grootste gedeelte van Suid-­Afrika (71%) is slegs geskik vir ekstensiewe veeboerdery. Dit kan dus vir niks anders gebruik word nie.

In Namibië is selfs minder grond ­bewerkbaar.

As vee nie die weiding benut nie, wat gaan daarvan word?

Wel, eerstens kan dit deur ander diere gevreet word, wat ook metaangas sal vrystel. Tweedens kan dit brand, wat 'n klomp koolstofdioksied sal vrystel.

Of dit kan verrot, wat nitraatgas sal vrystel wat 300 keer skadeliker as koolstofdioksied is.

Geld dieselfde beginsels ook vir die ­watervoetspoor van diereproduksie?

Ja, die veebedryf word ook daarvan be­skuldig dat dit groot hoeveelhede water gebruik. Die syfers wat aktiviste vir water­verbruik aanhaal, word ook oordryf.

Daar word soms 'n syfer aangehaal van 15 500 l water wat nodig is om 1 kg vleis te produseer. Die aanname wat gemaak word is dat dit 3 jaar neem vir 'n bees om 200 kg vleis te produseer.

Verder word die verbruik bereken op grond van die besproeiing van ­aangeplante weiding en/of al die reën wat op die plaas geval het.

Sekerlik kan al die water nie aan vleisproduksie gekoppel word nie, want baie daarvan beland in riviere en damme waar dit vir ander doeleindes gebruik word.

Kan ons nie eerder die water wat deur diere gebruik word, gebruik om groente en grane te produseer nie?

In Suid-Afrika, en baie ander droër lande, word sogenaamde groen water deur die natuurlike weiding en droëlandgewasproduksie gebruik.

Dit is water wat in die grond opgeberg word nadat dit gereën het, en net die plante kan dit benut. Dit is ook meestal in gebiede wat in elk geval net vir veeboerdery geskik is.

Hierdie water kan dus vir niks anders gebruik word nie. As dit dus nie gebruik word om byvoorbeeld vleis te produseer nie, is dit verlore.

Hoekom bestaan verwarring?

Die metodes waarvolgens die koolstof- en watervoetspoor vir rooivleis­produksie gebruik word, is grootliks gegrond op generiese waardes van lande in die Noorde­like Halfrond. Dit maak byvoorbeeld nie voorsiening vir verskillende produksiestelsels nie.

As voorbeeld wil ek noem dat 'n meer realistiese berekening vir die waterverbruik in Suid-Afrika geraam word op tussen 245 l en 400 l water per kilogram vleis geproduseer. Die verskil word hoofsaaklik bepaal deur die produksiestelsel en die uitset van die kudde.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!