Gee om terwyl jy 'chill'

Tanja Bause
Tanja Bause



Saterdag het Chill for Charity in ­Khomasdal plaasgevind.

Die insamelingsgeleentheid is deur mnr. Cobie Bok, in samewerking met Madams-wegneemetes en -drankwinkel, en mnr. Clarence Visagie van ABInBev, aangebied.

Komberse, tweedehandse klere en geld is ten bate van minderbevoorregtes ingesamel.

Organiseerders sal voorts blikkies­kos aankoop en pakkies met nood­saaklikhede voorberei om aan ­behoeftiges uit te deel.

MK Runners-motorklub gaan die pakkies gratis aflewer.

“Ons kan ongeveer 10 mense help. Ons wil mense in Katutura, ­Otjomuise en Khomasdal help wat in bosse en ­rivierlope bly,” het Bok gesê.

Volgens hom was die geleentheid 'n groot sukses en sal hulle dit volgende jaar weer aanpak.

“Ek het gesien hoe swaar kry die mense wat in die bosse bly. My ouers het my geleer om te deel, want nie almal is so bevoorreg soos ek nie. Dit is hoekom ek besluit het om die fonds­insameling te reël en terug te gee,” het Bok gesê.

'n Kompetisie is gehou vir die oorspronklikste selfopgeboude motor.

Die 10 deelnemers aan dié kompetisie se inskrywingsfooie sal aangewend word om onder meer sanitêre doekies vir hawelose vroue te koop.

Die Namibiese kunstenaar Berthold en verskeie platejoggies het vir vermaak by die geleentheid gesorg.

Lede van die publiek wat die geleentheid nie kon bywoon nie, maar graag 'n bydrae wil maak, kan Bok by 081 434 7775, Madams by 085 288 0578 of Clarence by 081 306 2346 skakel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer