'Gee terug ons grond'
'Gee terug ons grond'

'Gee terug ons grond'

Die San-inwoners van ’n nasionale park voel hulle het nie die reg op vryheid van beweging nie.
Maria Eiseb
Maria Eiseb - Tydens die Women’s Leadership Centre (WLP) se byeenkoms in Windhoek het sowat 18 jong San-vroue hul ontevredenheid uitgespreek oor die manier waarop hulle as etniese groep behandel word.

Hulle het gesê dat, hoewel Namibië onafhanklik is, die San-gemeenskap nie in hierdie vryheid deel nie.

Me. Renathe Kayawe, ’n inwoner van die Mutjiku-woongebied in die Bwabwata Nasionale Park, wou weet of die San as ’n Namibiese groep dan nie die reg op vryheid van beweging het nie.

"Kan ons nie ook van daardie reg gebruik maak nie?" wou sy weet.

In die gebied waar hulle woon, kan hulle nie vir kos of plante vir medisyne in die veld gaan soek nie, het sy gesê.



“Ons lewe van die veld; ons medisyne is in die veld; was ons dan nie die eerste inwoners van hierdie land nie? Vandag het ons nie eers die vryheid om in die veld te loop of om duiwelsklou te gaan soek nie. Ons verkoop dit om ’n bestaan te maak," het Kayawe gesê.

“As jy in die teenstropery-eenheid se gebied gekry word, word jy gevra of jy van die gebied is en of jy ’n identiteitsdokument het. En as jy nie het nie, word daar gesê jy is nie van die gebied nie, en word ons geslaan," het sy beweer.

“Gee terug ons land dat ons soos in die verlede kan jag en versamel."

Hul kultuur gaan verlore omdat hul kinders nie daarmee kan grootword nie, het Kayawe gesê.

Volgens haar moet die San se tradisionele leiers erken word sodat hulle namens die gemeenskap kan optree.

Mnr. Romeo Muyunda, woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, sê hy is nie bewus van inwoners van die omgewing se klagtes nie.

“Die teenstropery-eenheid se taak is om diere in die park en die Mutjiku-gebied te beskerm - veral die olifante," het Muyunda gesê.

Hy het gesê inwoners word nie heeltemal beperk nie, maar moet met die eenheid saamwerk en nie sommer net in die park rondloop nie.

Volgens Muyunda tree die eenheid baie streng op weens stygende syfers van die wildstropery in Namibië.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer