Geen Afrika-olifante meer in dieretuine
Grootvoete van Namibië, Zimbabwe, Botswana en Suid-Afrika mag nie meer na dieretuine of vermaaklikheidsentrums uitgevoer word nie.
Francoise Steynberg
In 'n geskiedkundige verkiesing Sondag by die Konvensie vir die Handel in Bedreigde Spesies (Cites) se 18de beraad (COP18) in die Switserse stad Genève is gestem dat die uitvoer van lewende Afrika-olifante na dieretuine gestop word.
Altesaam 46 Cites-lidlande het Sondag tydens 'n komiteevergadering ten gunste van 'n verbod op die uitvoer van olifante uit Namibië, Zimbabwe, Suid-Afrika en Botswana gestem, 18 daarteen en 19 lidlande het buite stemming gebly.
Zimbabwe is tans die grootste olifant-uitvoerder in Afrika wat sedert 2012 altesaam 108 olifantkalfies na dieretuine in China uitgevoer het.
Omgewingsorganisasies beskou die verbod as 'n geskiedkundige oorwinning, maar dit moet steeds by die volle konferensie goedgekeur word wat op 28 Augustus ten einde loop.
Die lande het spesifiek gestem dat handel in lewende Afrika-olifante tot bewaring in hul natuurlike habitatte beperk word, en effektief die “wrede” praktyk beëindig om olifante te vang en na dieretuine en vermaaklikheidsentrums wêreldwyd te stuur.
Terwyl olifante in westelike, sentrale en oostelike Afrika al lankal gelys is as die spesie wat die meeste beskerming onder Cites nodig het en dus van alle handel verbied is, is sommige handel in Suider-Afrika toegelaat waar die olifantbevolkings gesonder is.
'n Internasionale diereregteorganisasie, Human Society International (HSI), sê hierdie besluit sal talle Afrika-olifante daarvan spaar om van hul families weggeruk en gedwing te word om in substandaard toestande in dieretuine en vermaaklikheidsentrums te bly.
“HSI verwelkom hierdie besluit en moedig internasionale leiers aan om die besluit volgende week te bekragtig,” sê me. Iris Ho, 'n wildspesialis van HSI, in 'n mediaverklaring.
“Die voorlopige besluit is 'n merkwaardige erkenning dat olifante nie in die vermaaklikheidsbedryf hoort nie,” het me. Cassandra Koenen, hoof van die wildlewe-afdeling van World Animal Protection, in 'n verklaring gesê. “Dit is 'n groot stap in die regte rigting.”
Diereregteorganisasies meen dit is wreed om olifante van hul families weg te neem en in gevangenskap in dieretuine en vermaaklikheidsentrums aan te hou.
Namibië het in 2012 verskeie spesies wild ter waarde van N$7,5 miljoen aan die Nasionale Dieretuinpark van Kuba van sowat 340 hektaar geskenk.
Cites se COP18 het Saterdag by sy hoofkwartier in Genève afgeskop met duisende bewaringskundiges en beleidsmakers van meer as 180 lande wat dit bywoon.
COP18 sou vanaf 23 Mei tot 3 Junie in Colombo in Sri Lanka plaasgevind het, maar is ná die terreuraanvalle tydens Paasnaweek daar weens veiligheidsredes na Switserland verskuif. [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie