Geen afsluiting nu00e1 sakeman se moord
Geen afsluiting nu00e1 sakeman se moord

Geen afsluiting ná sakeman se moord

'n Beloning is uitgeloof om die moordraaisel van 'n bekende inwoner en sakeman van Karasburg in 2016 op te los.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die familie van 'n bekende inwoner en sakeman van Karasburg wat vyf jaar gelede in sy huis oorval is en aan sy beserings beswyk het, het 'n beloning van N$50 000 uitgeloof vir inligting wat kan help om die skuldiges vas te trek.

Die 63-jarige mnr. Tillian Walters, die eienaar van 'n drankwinkel en slaghuis op die dorp, is op Afrikadag (25 Mei) 2016 deur sy broer, Andrew, in sy huis gevind waar hy vasgebind in sy kamer gelê het. Tillian was ten tyde van die voorval alleen by die huis.

Hy is per ambulans en vliegtuig na 'n hospitaal in Kimberley geneem waar hy tot en met sy dood in 'n koma was. Sy bakkie waarmee die aanvallers gevlug het, is later sowat 23 km buite Keetmanshoop op die pad na Grünau gevind.

Een van Tillian se werknemers, mnr. Desmond Vries, en mnr. Daniel Nuyoma is later in verband met die aanval en op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en diefstal in hegtenis geneem, maar is later weer vrygelaat. Die polisie het twee jaar gelede bevestig geen van die kontant wat gebuit is, is teruggevind nie en hulle was warm op die spoor van nog verdagtes wat vermoedelik by die aanval en roof betrokke was.

Walters se seun, Gershwin, het toe ook 'n beloning uitgeloof vir enige persoon wat met inligting vorendag kan kom om sy pa se moordenaars uiteindelik agter tralies te kry.

Volgens hom het die familie herhaaldelik by die polisie navraag gedoen oor waarom die saak sloer en die verdagtes wat aanvanklik vir die roof en aanval agter tralies was, weer vrygelaat is.

Gershwin het toe beweer die saak is van die rol geskrap omdat die ondersoekbeampte volgens hom nooit by die hof opgedaag het nie en die dossier glo voete gekry het. 'n Werknemer van sy pa wat aanvanklik vir poging tot moord en diefstal ná die aanval vasgetrek is, loop ook glo “vry in die dorp rond”.



DNS-UITSLAE

Andrew sê nou daar moes baie Suid-Afrikaanse banknote tydens die aanval op sy broer in die huis gewees het. Volgens hom sou sy broer die oggend na Upington vir aankope vertrek. Twee van sy bakkies met sleepwaens het ook in Upington gewag.

Hy sê twee mense is wel aanvanklik vir die moord en roof in hegtenis geneem, maar “ek weet nie of hulle ooit formeel aangekla is nie”. Hy het erken die saak is drie jaar gelede reeds tydelik van die hofrol geskrap.

Volgens die polisie was dit omdat die DNS wat gevind is, nie met die twee verdagtes verbind kon word nie.

“Daar is soveel nalatigheid, swak ondersoek en weersprekinge. Volgens die polisie kan hulle nie nou DNS-monsters van hulle neem nie. Ek verstaan nie en wil net so graag afsluiting hê,” het hy gesê.

Die koördineerder van misdaadondersoeke in die ||Kharasstreek, adj. komm. Crispin Mubebo, het erken die ondersoek het uitdagings gehad met leidrade wat na Suid-Afrika gelei het en inligting waarop gewag is.

Enige persoon wat kan help met die ondersoek of verdere inligting kan verskaf, kan Andrew by 081 124 7526 of Gershwin by 081 273 1021 kontak.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!