Geen appu00e8l vir staat teen Narimab se kwytskelding
Geen appu00e8l vir staat teen Narimab se kwytskelding

Geen appèl vir staat teen Narimab se kwytskelding

Die staat se aansoek om verlof tot appèl is gister in die hoërhof van die hand gewys.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Regter Boas Usiku het gister in die hoërhof in Windhoek gesê hy dink nie die staat het ’n redelike kans op sukses om teen die kwytskelding van Dimitri Narimab (30), ’n medebeskuldigde in die moordsaak van ’n 18-jarige meisie, te appelleer nie.

Voordat hy die staat se appèl van die hand gewys het, het regter Usiku gesê daar is geen getuienis op grond waarvan ’n redelike hof Narimab skuldig kan bevind nie en ook geen omstandigheidsgetuienis wat Narimab met die vermeende misdade kon verbind nie.

Narimab, wat aanvanklik saam met mnr. Ruben Fritz (23) daarvan beskuldig is dat hy in Maart 2013 ’n 18-jarige skoolmeisie verkrag en vermoor het en haar naakte liggaam in ’n bos naby die Shandumbala-woonbuurt gelaat het, is in Maart vanjaar in die hoërhof kwytgeskeld.

Die staat het egter ’n aansoek gebring om teen dié kwytskelding te appelleer.

Die staat het betoog dat daar getuienis teen die einde van die verhoor was dat Narimab betrokke was by die misdade waarvan die twee aangekla is, naamlik moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Staatsadvokaat Ethel Ndlovu het aangevoer dat daar getuienis gelewer is dat beide Fritz en Narimab die oorledene se selfoon vir ’n skamele N$10 verkoop het. Narimab het glo die onderhandelinge begin en Fritz het die selfoon in sy hande gehad. Ndlovu het ook gesê deur vir Fritz te help om die selfoon te verkoop, was Narimab ten minste ’n medepligtige om ontslae te raak van ’n bewys van die moord.

Ndlovu het ook genoem dat ten spyte van Narimab se getuienis dat hy nie selfoonkontak met die oorledene gehad het nie, selfoonrekords die teendeel bewys het. Narimab se getuienis oor wanneer hy die oorledene die laaste keer gesien het, was ook teenstrydig, het Ndlovu betoog. Verder was daar ook getuienis dat Narimab saam met Fritz sy gesondheidspaspoort in ’n pyp in die veld weggesteek het. Dié paspoort het inligting oor ’n bytmerk aan Fritz se vinger bevat.

Dit is die staat se saak dat daar omstandigheidsgetuienis was wat hom met die klagte wat uit die moord spruit, verbind en dat hy saam met Fritz verhoor moet word.

Die prokureur mnr. Mbanga Siyomunji het namens Narimab betoog dat ’n ander hof nie enige bewyse sal vind om hom met die vier klagte teen hom te verbind nie. Siyomunji het betoog dat Fritz die een was wat die oorledene se selfoon in sy besit gehad het en dat die feit dat Narimab in sy geselskap was nie beteken hy kon vermoed het dit was die oorledene se selfoon nie.

Siyomunji het ook betoog dat Fritz in sy bekentenis aan ene dr. Kabanje dat hy die oorledene verkrag en vermoor het, nie genoem het dat hy dit saam met Narimab gedoen het nie.

Siyomunji het verder betoog Narimab se selfoonoproepe na die oorledene se selfoon was onbeantwoord en die selfoon het net gelui. Ook die DNA-getuienis wat deur die hof aangehoor is, het Narimab heeltemal van die verkragting en moord kwytgeskeld, het Siyomunji ten slotte genoem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!