Geen bevestigde Covid-19-gevalle
Geen bevestigde Covid-19-gevalle

Geen bevestigde Covid-19-gevalle

’n Tolvrye hulplyn, 0800 100 100, is vir die publiek geskep.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Nie elkeen wat griepsimptome het, gaan sonder meer vir Covid-19 getoets word nie.

Die uitvoerende hoof van die Namibiese Instituut vir Patologie (Nip), dr. David Uriab, sê slegs sekere gevalle sal getoets word.

Dit sluit onder meer in waar mense in noue kontak met iemand was wat positief vir die siekte getoets het of na ’n land gereis het waar die risiko hoog is om met Covid-19 geïnfekteer te word.

Dit sluit lande soos China en Italië in.

Volgens Uriab is daar ’n wêreldwye tekort aan reagense om vir die virus te toets.

“As jy geen kontak gehad het met iemand wat positief getoets het of na ’n land gereis het waar die risiko vir die siekte hoog is nie, gaan jy nie getoets word nie,” sê hy.

Volgens Uriab is die Nip met sy 40 laboratoriums gerat om plaaslik en vinnig vir die siekte te toets.

“Ons het seker gemaak al ons personeel weet hoe om monsters te versamel en hanteer.

Die Nip het tot dusver vier vermoedelike gevalle (twee op Lüderitz, twee op Rehoboth) getoets, wat almal negatief was.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), dr. Kalumbi Shangula, is ’n totaal van agt vermoedelike gevalle van die siekte getoets.

Van die toetse is plaaslik gedoen, en ander is na Suid-Afrika gestuur.

Vier van die vermoedelike gevalle was in Windhoek.

Daar word nog op die toetsuitslag van ’n vermoedelike geval op Onandjokwe gewag.

Twee vals alarms is op Oranjemund en Okahandja aangeteken. Volgens Shangula was die vals alarm op Okahandja iemand wat in kontak was “met ’n hoesende Chinese burger met ’n masker”.

“Nie elke loopneus of hoes kwalifiseer as kandidaat vir die coronavirus nie,” sê Uriab.

Volgens hom sal slegs gevalle wat aan die standaarddefinisie vir gevalle voldoen, deur laboratoriums getoets word.

Dit sodat plaaslike hulpbronne ekonomiese gebruik word, sê hy.

Shangula sê Namibië het standaardprosedures ontwikkel in voorbereiding op enige positiewe Covid-19-gevalle, wat die verspreiding van persoonlik beskermende toerusting (PPE) na al 14 streke insluit.

’n Tolvrye hulplyn, 0800 100 100, is vir die publiek geskep om meer inligting oor Covid-19 te bekom en om enige navrae na verwante owerhede te verwys.

Die minister sê in die lig van Covid-19 moet alle vergaderings of byeenkomste in Namibië wat internasionale deelnemers betrek, eerder van inligtingstegnologie soos Skype of videokonferensiegeriewe gebruik maak.

Dit volg op ’n besluit wat op 9 Maart tydens ’n vergadering van gesondheidsministers in Afrika in Dar-es-Salaam in Tanzanië geneem is om alle direkte ontmoetings en vergaderings tydelik in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingstreek (SADC) op te skort.

Op ’n vraag of mediese personeel op ’n tydelike basis die militêre veldhospitaal by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gaan beman, sê Shangula “dit word nie vir behandeling beman nie”.

“Dit is bloot vir isolasie. As daar ’n bevestigde Covid-19-geval is, sal die persoon na Windhoek vir behandeling gebring word,” sê hy.

Met verwysing na buitelandse gaste wat vir die beplande onafhanklikheidsvieringe op 21 Maart verwag word, het die ministerie se uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, gesê maatreëls is reeds op lughawens en by grensposte ingestel om besoekers vir Covid-19 te toets.

“Alle aankomste in die land word aan skandering onderwerp en is verplig om ’n vorm in te vul oor hul onlangse reisgeskiedenis. Ons gaan nie (met onafhanklikheidswording) meer gaste op lughawens ontvang as wat ons gewoonlik ontvang nie. Alles is reeds in plek,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!