Geen borgtog vir drie wat leeus glo vergiftig
Geen borgtog vir drie wat leeus glo vergiftig

Geen borgtog vir drie wat leeus glo vergiftig

'n Woestynleeunavorser meen die voorval was 'n groot ­terugslag vir bewaring.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Drie mans het gisteroggend in die landdroshof op Opuwo verskyn in verband met die vergiftiging van vier leeus die naweek naby Sesfontein.

Die drie beskuldigdes, mnre. Tjituta Tjituta (39), Kasanga Mwalunga (28) en die 25-jarige Tjimbutumwa Katumbwale het op klagte van die onwettige jag van spesiaal beskermde wild, die onwettige besit van beheerde wildprodukte en dwarsboming van die gereg verskyn.

Staatsaanklaer Namebo Sibya het borgtog heftig teengestaan weens die ernstige aard van die oortreding en omdat die polisieondersoek nog in 'n vroeë stadium is. Die drie beskuldigdes bly dus in aanhouding.

Landdros Eliud Nakolonda het die saak tot 22 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.

Tjituta van die Okamborongo-nedersetting, Mwalunga van die Mbakondja-nedersetting en Katumbwale van die Okonge-nedersetting word daarvan beskuldig dat hulle Saterdag vier leeus, drie mannetjies en een wyfie, by Nuwepos naby Sesfontein vergiftig het.



'SLEGTE NUUS'

Dr. Philip Stander van die woestynleeunavorsingsprojek het gister aan Republikein gesê die vergiftiging van die vier leeus is 'n groot terugslag vir bewaring – veral nadat goeie vordering met die Noordwes-leeubestuurplan gemaak is.

“Dit is slegte nuus. Dis 'n geval van 'n paar stappies vorentoe en 'n paar stappies terug,” het Stander gesê.

“Ons moet nog die goedgesindheid van die gemeenskap wen. Almal moet nou saamstaan en sê hierdie voorval was verkeerd.”

Volgens Stander is twee beskermde krale in die gebied suid van Sesfontein gebou, ses leeus is van nekbande voorsien en 'n vroeë waarskuwingstelsel is in plek.

“Beeste is onlangs daar gevang, maar hulle is nie oornag in die krale aangehou nie,” het hy gesê.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die drie verdagtes glo wildsvleis met gif naby Sesfontein in die veld uitgesit. Die vier volwasse leeus het die vergiftigde vleis geëet en gevrek.

“Die polisie het voetspore gevolg wat na 'n huis gelei het waar sebra- en gemsbokvleis weggesteek is,” lui die misdaadverslag.

Skoene is glo ook gevind wat by die voetspore op die misdaadtoneel pas en die drie is in hegtenis geneem.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!