Geen borgtog vir ‘ivoorsmokkelaars’

Verskeie verdagtes is in drie verskillende voorvalle van wildmisdaad in hegtenis geneem.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Tydens verskillende, gesamentlike operasies Sondag deur die Namibiese polisie en die ministerie van die omgewing en toerisme is 'n groot slag oor die naweek in die Zambezistreek geslaan met 11 olifanttande en ses stukke ivoor waarop beslag gelê is.

Die 11 olifanttande is in 'n huis in die Chotto-nedersetting op Katima Mulilo gevind, het die streeksbevelvoerder van die Zambezistreek, komm. Karl Theron, bevestig.

'n Namibiese man, mnr. Mabuku Pedro Lute (27), is in hegtenis geneem en het gister in verband met die onwettige besit van en handel in beheerde wildprodukte in die landdroshof op Katima Mulilo verskyn.

Hy bly in aanhouding en sy saak is tot 24 Junie uitgestel.

In 'n ander voorval, in die omgewing van die Lubuta-nedersetting, is 'n 28-jarige Zambiese man, mnr. Dennis Mubita, volgens Theron met ses stukke ivoor in hegtenis geneem.

"Dit lyk of die olifanttande in stukke gebreek is," het Theron gesê.

Die Zambiër het ook gister in die hof op 'n klag van die onwettige besit van en handel in beheerde wildprodukte verskyn. Hy is borgtog geweier en sal weer op 24 Julie in die landdroshof op Katima Mulilo verskyn.

"Terwyl die polisie op die spoor van die Zambiese verdagte was, het hulle op twee Namibiese kinders (17 en 15) met twee lewende ietermagogs in die Sachona-nedersetting afgekom," het Theron gesê.

Volgens hom is die kinders in hul ouers se sorg vrygelaat.

"Die ministerie prys die Namibiese polisie en ons beamptes vir hul harde werk en vasberadenheid in hierdie klopjagte. Die inhegtenisnemings en die beslagleggings op ivoor in hierdie gesamentlike operasies is 'n groot hupstoot vir ons pogings teen stropery," het die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, gesê.

"Ons waarsku wildmisdadigers om hul aktiwiteite te staak, anders sal hulle die risiko van verhoogde boetes en vonnisse loop."

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!