Geen borgtog vir vermeende dwelmsmous
Geen borgtog vir vermeende dwelmsmous

Geen borgtog vir vermeende dwelmsmous

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Vermeende dwelmsmous bly agter tralies nadat hy die naweek in Khomasdal glo met dwelms ter waarde van sowat N$4 000 in sy besit gevind is.
Mnr. Romano de Koen (27) het gister in die landdroshof in Katutura verskyn. Hy is nie borgtog toegestaan nie.
De Koen, glo 'n bekende in dwelmkringe, is Vrydagaand by sy huis op die hoek van Dollar- en Frankstraat in Khomasdal in hegtenis geneem.
Die hoof van die polisie se dwelmeenheid, adj.komm. Hermie van Zyl, het gesê die beskuldigde is 'n bekende dwelmsmous wat reeds op borgtog van onderskeidelik N$5 000 en N$1 500 vrygelaat is. Hy is op soortgelyke klagte in 2015 en vroeër vanjaar in hegtenis geneem.
"Geheime polisieagente het die beskuldigde dopgehou sedert hy op borgtog vrygelaat is en crack-kokaïen ter waarde van N$500 by hom gekoop voordat die dwelmeenheid toegeslaan het," het Van Zyl gesê.
De Koen se huis lyk glo soos 'n fort. Volgens Van Zyl het die huis 'n hoë muur en lemmetjiesdraad. Die huis is ook glo toegerus met staaldeure, versperrings en swaar metaaldiefwering voor al die vensters.
"Die polisie kon toeslaan voordat De Koen kokaïen ter waarde van N$3 500 in die drein kon afspoel," het Van Zyl gesê.
"Die beskuldigde is ook in besit van N$2 500 kontant en 'n klein hoeveelheid dagga gevind wat hy besig was om te rook toe die polisie sy eiendom betree het."
Voorts was daar vyf Amerikaanse veghonde en een polisiebeampte is deur 'n hond gebyt, "maar hy is gelukkig nie ernstig beseer nie," het Van Zyl gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer