Geen borgtog vir vermeende familiemoordenaar
Ronelle Rademeyer
Die 20-jarige Jesaya Gabriel Chuhunda, wat tereg staan op vyf klagte van moord nadat hy na bewering Saterdagnag sy ouma, ma en sy suster se drie kleuterseuns met 'n stok doodgeslaan het, bly in aanhouding.
Landdros Vivian Ndlovu het hom gister borgtog geweier met sy verskyning in die landdroshof op Rundu waar dié familietreurspel plaasgevind het.
Sy verhoor is tot 20 Augustus vanjaar vir verdere ondersoek uitgestel. Ndlovu het ook opdrag gegee dat Chuhunda vir sielkundige waarneming gestuur word en dat 'n regsverteenwoordiger vir hom aangestel word.
Die vermoordes is die 77-jarige me. Ndongo Ntumba, sy ouma, me. Ndara Elizabeth Mpande (46), sy ma, asook sy drie susterskinders, Musenge Petrus Muruti (6), Hausiku Daniel Kapumburu (4) en die driejarige Musenge Elias Tjingelesu.
Die bewering is dat Chuhunda vroeër Saterdag met sy familie oor geld gestry het. Sy suster, wie se seuns sy slagoffers was, het glo eerste onder sy woedebui deurgeloop. Sy is polisie toe om hulp te ontbied en dit het hom volgens die polisie se verslag oor die voorval, net nóg kwater gemaak.
Die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het opdrag gegee dat die bewering van nalatige polisieoptrede intern ondersoek word.
Me. Loide Iipinge, sekretaris-generaal van die Popular Democratic Movement (PDM) se vroueliga, het intussen in 'n verklaring gesê dié party is bekommerd oor die baie moorde op vroue en kinders in Namibië, want dit ontneem die land van die bydrae wat hulle in die toekoms kon gelewer het.
“Verskeie mense het die afgelope jare aan die hand van 'n familielid of geliefde gesterf. Dit is uiters tragies aangesien die huis 'n toevlugsoord vir vroue, kinders en mans behoort te wees.”
Sy sê wetstoepassers moet betyds optree as gevalle van geslagsgeweld onder hul aandag gebring word om die hoë voorkoms van misdade soos hierdie te voorkom.
(Eie berig en Nampa)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie