Geen borgtog vir vermeende plaasrowers
Geen borgtog vir vermeende plaasrowers

Geen borgtog vir vermeende plaasrowers

Die beskuldigdes kon nie daarin slaag om die kluis oop te breek nie, maar het met verskeie ander toestelle weggekom.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Twee van die vyf mans wat op 7 Desember helder oordag gewapen op die plaas Klein Okakango toegeslaan het en van die plaaswerkers oorrompel, beroof en toegesluit het, is gister in die landdroshof op Okahandja borgtog geweier.

Mnre. Gerson Shiningeni (37) en Leonard Taviez Niilenge (30) is Donderdag in Windhoek op ’n klag van gewapende roof in hegtenis geneem. Hul drie makkers word nog deur die polisie gesoek.

Adj.komm. Naukalemo Andreas, koördineerder van misdaadondersoeke in die Otjozondjupastreek, sê die bende rowers het die betrokke dag omstreeks 13:00 op dié plaas naby Hochfeld opgedaag. Een van die mans was met ’n pistool gewapen.

Mnr. Kobus Visser en sy gesin, aan wie die plaas behoort, was nie tuis nie.

Hy sê die mans het te voet by die huis van die voorman en sy gesin aangekom en gesê hulle doen stukwerk op een van die buurplase. Die mans het gesê hulle is honger en het vir iets te ete gevra.

In daardie stadium het die werkers nog nie onraad vermoed nie. Een van die rowers het egter kort daarna ’n pistool uitgepluk en hul selfone gebuit. Een van die jonger plaaswerkers kon daarin slaag om weg te hardloop. Hy het in die veld ’n trop perde teëgekom en sommer bloots op een gespring om hulp te gaan soek.

Intussen het die rowers geld geëis en die voorman en sy vrou aangesê om hulle na die plaasopstal te neem. Daar het hulle die huis oopgebreek, waarna hulle die voorman in ’n kamer toegesluit het en sy vrou en een van hul kinders aan die ander kant van die huis in ’n ander vertrek toegesluit het.

Visser sê die opnames van die sekuriteitskameras wys hoe die rowers sonder sukses probeer het om die kluis oop te breek. Gefrustreerd het hulle ’n televisie, DVD-speler en die skerm van die kringtelevisiekameras gevat en teruggekeer na waar hul voertuig geparkeer was.

Toe hulle die jongman op die perd in die pad gewaar, het hulle hom met hul voertuig gejaag en hy het die veld in gevlug.

Intussen het die voorman ontsnap en na sy vrou en kind begin soek. Toe hulle nie op sy geroep antwoord nie, het hy aangeneem die rowers het hulle ontvoer.

Die voorman het met ’n motorfiets na ’n buurplaas gery om hulp te ontbied.

Visser was gister vol lof vir die polisie se vinnige optrede. Hy sê die eenheid vir ernstige misdaad in Windhoek is ontbied aangesien ’n ontvoering vermoed is, terwyl Andreas en haar span ook dadelik bystand verleen het.

Die vrou en kind is later in die ander vertrek gevind.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!