Geen borgtog vir vermeende renosterstropers
Boer briek gewapendes vlak teen Etosha
Ronelle Rademeyer - Agt mans wat van betrokkenheid by renosterstropery verdink word, is vandeesweek borgtog in twee verskillende sake geweier.
Vier was na bewering betrokke by die renosterstroping in die Erindi private wildtuin, terwyl die ander vier se vermoedelike stropingsplanne knap teen die Etosha-grensheining deur ’n plaaseienaar gestuit is. Hulle het glo ’n jaggeweer, ammunisie en voorrade soos blikkieskos by hulle gehad.
Dié vier mans se voertuig is Saterdagaand omstreeks tienuur deur ’n boer wie se plaas aan die Etosha Nasionale Park grens, in die veld naby die plaashuis opgemerk. Hy het hulle agtervolg en toe die mans sowat 1,5 km vanaf die park se grensheining was, twee waarskuwingskote afgevuur. Hy het ook die voertuig se bande stukkend geskiet, waarna die mans te voet op die vlug geslaan het.
Die boer, wie se naam nie genoem word nie om hom teen weerwraak te beskerm, het die polisie en natuurbewaring ontbied.
’n Uitgebreide soektog het gevolg waartydens ’n polisiehelikopter onder meer ingespan is om die vlugtendes op te spoor.
Hulle is uiteindelik Sondagmiddag sowat 40 km van waar die plaaseienaar op hulle afgekom het, vasgetrek en in hegtenis geneem.
Volgens. adj.komm. Edwin Kanguatjivi, hoof van die polisie se skakelafdeling in Windhoek, het hulle Dinsdag in die landdroshof op Tsumeb op klagte van betreding en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie verskyn.
Hulle is die 39-jarige mnr. Tjovihulo Ndidambe, die 21-jarige mnr. Ngaveeue Tjiwana en mnre. Frans Nungolagola (24) en Tjiunba Kavetjikuru (19).
Die saak is tot 29 September vir verdere ondersoek uitgestel en hulle bly in aanhouding. Die mans sal tydens dié verskyning formeel om borgtog aansoek doen.
Verder is die vier mans wat Vrydag suid van Otjiwarongo vasgetrek is in verband met die stroping van ’n renoster op Erindi, Maandag tydens hulle eerste verskyning op klagte van die onwettige jag van spesiale en beskermde wild en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, in die landdroshof op Omaruru borgtog geweier.
Mnre. David Chihinga Kalwizi, Ndala Mukisi, Franco Mapulanga Liswaniso and Brian Mandjolo is sowat 27 km suid van Otjiwarongo by ’n polisie-padblokkade vasgetrek. Hulle verhoor is tot 30 November uitgestel om die polisie geleentheid te gee om die saak verder te ondersoek.
Ao. Maureen Mbeha, woordvoerder van die polisie in die Otjozondjupastreek, het aan Nampa gesê die mans is aangekeer nadat die polisie hulle bewegings fyn gemonitor het. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle verlede Donderdag ’n swart renoster op Erindi gestroop het.
Volgens haar het die mans na bewering die twee renosterhorings in ’n huis op Okahandja gaan versteek.
Hulle het teruggekeer na hulle geheime kampeerplek in dié private wildtuin, maar op die vlug geslaan toe hulle agterkom die polisie is op hul spoor. Byle, messe en kamptoerusting is in hulle besit gevind toe hulle aangekeer is. -Eie berig en Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie