Geen einde aan slagting in Noordweste

Die wildstropery- en veediefstalkrisis op plase duur voort.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die slagting van wild en vee in die noordweste van die land ken geen einde nie en boere meen dít en die ekonomiese krisis gaan net vererger.

Boere van Kamanjab, Kalkfeld, Khorixas, Outjo, Omaruru, Otjimbingwe, Usakos, Wilhemstal, Karibib, Otavi, Otjiwarongo en Okahandja sit nie net hande in die hare oor die knellende droogte nie, maar ook oor die jare lange krisis van vee- en wilddiefstal.

’n Boer van die Omaruru-distrik het gesê in die 30 jaar wat hy boer, is 100 beeste geslag, 300 stuks kleinvee geslag en gesteel en 400 gemsbokke gestroop.

“Die polisie kon nie daarin slaag om een stroper te vang en agter tralies te sit nie, hoewel ons boere ontelbare ure en dae daaraan bestee om hope inligting aan hulle te gee,” sê die boer.

“Verlede jaar het ons 50 strikke in die Omaruru-distrik opgetel, maar ons kry nie die koppe nie. Die stropers begrawe die koppe,” sê hy.

Volgens die moedelose boer word stropers se voertuie aan die polisie uitgewys, “maar dan jaag hulle weg met die taxi’s met die gesteelde vleis in, spring uit en slaan op die vlug”.

Mnr. Frank Bockmuhl van die plaas Tsuwandes, 50 km wes van Outjo op die pad na Khorixas, het al telkemale onder vee- en wilddiewe deurgeloop.

Onlangs is ’n kameelperd op sy plaas in ’n strik gevang en het ’n wrede dood gesterf.

“Ek is baie hartseer, maar die kameelperd is maar net nog een van die honderde diere wat die stropers links en regs steel,” het Bockmuhl gister aan Republikein gesê.

“Hy was die eerste kameelperd wat oor Tsuwandes geloop het. Hy het die plaas as ’n goeie plek en veilige hawe ervaar - tot ’n paar weke gelede. Ek het hom Johnny Walker gedoop, want hy het op en af en kruis en dwars oor Tsuwandes gestap.”

DRAADSTRIKKE

Bockmuhl sê die stropers moes van die kameelperd in die strik vergeet het, want die vleis was nie gesteel nie.

“As die teenstropingseenheid die plaas aan die een kant oppas, steel die stropers die heining 600 m verder. Hulle maak strikke om wild te vang van die heiningdraad.”

Hy meen vee- en wildstropery gaan net vererger.

“Mense het nie werk nie en daar is nie kos nie. Stropers is nie net meer ongeskooldes nie; diegene wat die stropery organiseer, het ook hul werk verloor, maar het nog finansiële verpligtinge soos om ’n voertuig af te betaal,” sê hy.

Bockmuhl sê boere meld nie meer veediefstal en wildstropery by die polisie aan nie, “want dit help nie meer nie”.

Hy vertel van twee pasaangestelde kolebranders wat betrap is dat hulle strikke op die plaas stel.

“Hulle is na die polisie op Outjo geneem, wat hulle weer laat loop het. Die polisie en amptenare van die ministerie van die omgewing en toerisme moes na die plaas uitgeroep word om die toneel te ondersoek waar die strikke gestel is.”

Republikein het onlangs oor die slagting op die plaas Abachaus no. 2025 langs die Queen Sophia-hervestigingsplaas in die Otavi-distrik berig.

Volgens mnr. Horst Hobohm was daar vanjaar tot dusver 22 gevalle van wildstropery op sy plaas en in Mei alleen nege gevalle.

Op 12 Junie, die dag ná die berig gepubliseer is, het Hobohm laat weet nog drie gemsbokkoppe is op Abachaus ontdek.

Verlede jaar het hy 18 koeie verloor. Ook hy het opgehou om sake by die polisie aan te meld, “want dit help nie meer nie”.

Die Namibiese polisie se koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, adj.komm. Erastus Iikuyu, het ’n beroep op boere gedoen om alle voorvalle van onwettige jag en veediefstal by die polisie aan te meld.

Hy en die Otjozondjupastreek se polisiewoordvoerder, insp. Maureen Mbeha, sal in ’n latere stadium statistieke van onwettige jag en veediefstal in hul streke verskaf.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!