Geen geld vir Kalahariwoestyn-slagoffer
Geen geld vir Kalahariwoestyn-slagoffer

Geen geld vir Kalahariwoestyn-slagoffer

Denver Kisting
Denver Kisting – ’n Vriend van wyle mnr. Fambauone Black (22), die Kalahariwoestyn-slagoffer, sê daar’s geen geld om sy oorskot na Zimbabwe terug te neem nie.

Dié man het gister erken hy – nes Black ten tyde van sy dood – is onwettig in Namibië. Sy identiteit word derhalwe weerhou.

Volgens hom wil Black se ouers, wat tussen die buurland se hoofstad, Harare, en Chitungwiza woon, hê sy lyk moet huis toe gebring word.

Hulle het Black liefderik Charlie genoem, vertel die vriend. “Soos in Charlie Chaplin.”

Al die papierwerk is gereed vir die reis wat vandag sou plaasvind, maar daar is geen geld daarvoor nie, sê Republikein se bron.

Black was ongetroud en het nog nie kinders gehad nie, sê sy bewoë vriend.

Die jong taxibestuurder het verlede Donderdag omstreeks 01:00 in Monicastraat in Katutura gesterf – glo aan die hand van kpl. Gerson Nakale, ’n soldaat wat deel was van die teenmisdaadveldtog Operasie Kalahariwoestyn.

“Om vir jou die waarheid te vertel: Ons is almal swaar getref,” sê Black se vriend.

Hy sê hulle besef Nakale het moontlik nie geweet dit is ’n Zimbabwiër toe hy hom glo geskiet het nie, maar dit neem nie hul hartseer weg nie.

“Ons is glad nie gelukkig nie. Ek is nog baie emosioneel.”

’n Broer van Black kan hom kwalik help met die reëlings omdat dié man sy broer se dood moet verwerk en weer sy voete moet vind ná hy glo twee weke gelede uit aanhouding vrygelaat is.

Die bron sê die broer is aangekeer omdat ook hy onwettig in Namibië is.

“Ons wil nie teruggaan huis toe nie, want om soontoe (Zimbabwe toe) te gaan, is ’n ander storie,” sê hy.

Hy sê Black het verlede Donderdag van die owerhede weggejaag omdat hy waarskynlik bang was weens sy status in die land.

“En selfs al het ’n mens dokumente word Zimbabwiërs nie toegelaat om in Namibië taxi te ry nie.”

Adj.komm. Abner Agas, koördineerder van misdaadondersoeke in die Khomasstreek, sê by navraag Nakale was deel van ’n groot span weermag- en polisielede by die padblokkade in Katutura.

Hy wou nie bespiegel of dit ’n waarskuwingskoot was wat skeefgeloop het nie.

Agas het bevestig Black het in Oktober 2017 in Namibië aangekom en die land nie weer verlaat nie.

Die senior beampte het ook bevestig Black was as taxibestuurder in diens van ’n ander Zimbabwiese burger.

Hulle het na wat verneem word ’n taxipermit gebruik wat aan ’n Namibiër behoort.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!