Geen gim-geld meer

Die voorsiening van afslag op gimnasiumlidmaatskap deur mediese fondse is volgens Namfisa nie die dekking van uitgawes aangegaan vir die verskaffing van ’n mediese diens deur ’n geregistreerde persoon nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Namibiese waghond oor finansiële instellings in Namibië, Namfisa, het geregistreerde mediese fondse in die land opdrag gegee om afslag op gimnasiumlidmaatskap vir lede en ander weldstandsprogramme teen einde volgende jaar te staak.

Huidig maak verskeie mediese fondse hiervoor voorsiening as voordele vir sy lede.

Die doel van die opdrag is om ’n “geïdentifiseerde wanpraktyk in die mediesefondsbedryf” wat op bogenoemde betrekking het, reg te stel.

Volgens ’n skrywe deur Namfisa wat in April aan mediese fondse en hul administrateurs uitgereik is, het die voorsiening van dié welstandsprogramme aan lede nie noodwendig die verskaffing van gesondheidsorg deur ’n geregistreerde persoon as oormerk en soos in die Wet op Mediese Fondse bedoel word nie.

In terme van artikel 1 van die wet kwalifiseer net gesondheidsorg verskaf deur ’n persoon geregistreer in terme van enige wet as ’n “mediese diens”. Mediese dienste sluit voorts onder meer die fisieke of geestelike ondersoek van ’n persoon in; die diagnose, behandeling of voorkoming van enige fisieke of geestelike afwyking, siekte of tekort; die voorskryf of verskaffing van enige medisyne, toestel of apparaat met betrekking tot ’n afwyking, siekte, tekort of swangerskap; die voorsiening van verblyf in ’n hospitaal of gesondheidsinstelling, sowel as verpleging en verloskunde.

Die voorsiening van afslag op gim-lidmaatskap deur fondse se doelwit is volgens Namfisa nie die dekking van uitgawes aangegaan vir die verskaffing van ’n mediese diens deur ’n geregistreerde persoon nie.

Die betaling van ’n fonds vir afslag op ’n lid se gim-lidmaatskap in die afwesigheid van ’n voorskrif deur ’n geregistreerde persoon, kan volgens Namfisa nie gelykstaande wees aan die “dekking van uitgawes aangegaan deur die persoon met betrekking tot die lewering van enige mediese diens” en soos bepaal deur die definisie van “fonds” nie.

Dieselfde geld vir ’n fonds se voorsiening van ’n welstandsvoordeel wat nié gesondheidsorg deur ’n geregistreerde persoon behels nie.

In die lig hiervan en om ooreenstemming met die wet te verseker, het Namfisa alle geregistreerde fondse opdrag gegee om die verskaffing van gim-kortings in sy huidige vorm stop te sit. Volgens Namfisa word dié kortings aan lede van mediese fondse as voordele verskaf, ten spyte van die feit dat daar geen gesondheidsorg deur ’n geregistreerde persoon verskaf word nie.

Mediese fondse is voorts aangesê om die voorsiening van welstandsprogramme te staak wat nie op gesondheidsorg deur ’n geregistreerde persoon neerkom nie. Dit sluit "boot camp"-oefenprogramme, programme om op te hou rook, kookskole en stapklubs in. Korporatiewe welstandsprogramme wat inligting, onderrig en gesondheidsondersoeke aan werknemers bied wat aan ’n mediese fonds behoort, en onder meer cholesteroltoetse insluit, kry ook die rooi lig.

Namfisa het in sy skrywe ’n beroep op mediese fondse gedoen om hul regulasies in die lig van bogenoemde en in ooreenstemming met die voorsienings van die wet te wysig. Fondse moet teen 31 Desember aanstaande jaar aan die vereistes van die opdrag voldoen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!