Geen grense meer

Meer as twee dekades ná die val van die Berlynse muur het die Duitse Demokratiese Republiek uit die alledaagse lewe van inwoners van Berlyn verdwyn.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht in Berlyn - Vandag is daar geen grense meer nie, buiten 'n smal lyn op 'n sypaadjie wat wys dat daar eens skeiding tussen Oos en Wes was.

Die alledaagse lewe in die voormalige Duitse Demokratiese Republiek (DDR) is op 'n byna “fisiese manier” agtergelaat, sê prof. dr. Martin Sabrow, direkteur van die sentrum vir kontemporêre geskiedenis in Berlyn.

Op die vraag hoe die DDR vandag in Duitsland gesien word, erken Sabrow hy “ken dit, maar voel en ruik dit nie meer nie”.

“Die DDR het 'n sterk reuk, veral van skoonmaakmiddels, gehad. Jy kon ook die uitlaatgasse van die motors ruik, die enjins se dampe en die ­nywerhede se rook.”

Sabrow onthou rookwolke bo fabrieke, met lugbesoedeling wat in vlieswolke oor alles gehang het.

Vandag is daar geen tekens van besoedeling nie en is die reuk weg wat onmiddellik die DDR in herinnering geroep het en so kenmerkend van die gebied was.

“Dit (die fabrieke) is alles vir estetiese redes vernietig.”

Is daar wel 'n toeris of besoeker wat wil weet waar die Berlynse muur was wat soveel verdeeldheid veroorsaak en families uitmekaar sou skeur, het die wêreldstad verskeie toeriste-aantreklikhede en toere wat jou op die spoor van toe se muur lei. Ook word dié wat in hul poging om te ontsnap gesterf het, in herinnering geroep met gedenkplate wat aangebring is op die plek waar hulle gesterf het.

Ook waar diegene dood is wat probeer ontsnap het.

Sabrow onthou daar was ook 'n “effense verskil” in die taalgebruik tussen inwoners van Wes- en Oos-Berlyn.

Maar die DDR, die Berlynse muur en die lewe en geskiedenis van toe is 'n deel van die verlede waaroor mense nie normaalweg praat nie, erken hy.

“Die DDR het uit ons alledaagse lewe verdwyn.”

Met die val van die muur is van die geboue in die DDR, insluitend die Paleis van die Republiek, wel opgeknap en is moeite gedoen om die stad se ryk geskiedenis te vier. Tog is daar in min “sterk oorblyfsels” volgens Sabrow vandag van die DDR te sien.

Instellings uit die verlede soos die DDR-gevangenis, die ministerie van staatsveiligheid, voormalige tronke en grensposte pryk egter steeds op die stad se horison.

Met verwysing na massamedia sê Sabrow die DDR is hier baie sterk, met verskeie dokumentêre programme waarin die Weste dikwels as die “beter opsie” gesien word.

“Verskeie dokumentêre programme­ het Oos-Berlyn en die DDR sterk in die kollig geplaas, met rolprente soos Lady at the Border en Life of Others wat die Oosblok as agtergrond en tema het.”

Laasgenoemde is verbied om by tronke vertoon te word uit vrees dat die rolprent 'n “te eerlike en donker prentjie van die ministerie vir staatsveiligheid sou skets”.

Outobiografieë blyk volgens Sabrow 'n baie gewilde en lonende manier vir ontboesemings oor die DDR en 'n lewe in Oos-Berlyn te wees.

“Byna die helfte van die politburo het outobiografieë gepubliseer. Om jou herinneringe neer te pen, om jou lewe aan ander te wys, is ook 'n manier om jou verlede te verwerk. Selfs verslaande diktators is toegelaat om hul weergawe van hul lewe op papier vas te lê.”

Sabrow verwys voorts na drie ver­skillende narratiewe wat gebruik word as manier om die lewe in die DDR “te verwerk, te oordink en te onthou”.

Die 'diktatorsgeheue' is die organisering van die herinneringe van diktators met verwysing na die onderdrukking van mense en 'n bose stelsel.

“Dit het dalk goed van buite gelyk en die slagoffers en die oortreders staan sentraal in die vertellinge.”

Volgens Sabrow word hier dikwels nie die feit in ag geneem dat mense “vrywillig” hiervoor geval het nie en bly dit die “amptelike of staats­herinnering”.

Ook is daar die narratief van die bekende herinnering soos dié tussen ma en kind, man en vrou. Laastens is daar die geheueproses wat sentraal fokus op die “regte stelsel, maar die verkeerde tyd”.

Sabrow erken dis moeilik om ander se weergawes uit te daag.

“Moet die dikator se weergawe erken word? Dit is 'n baie moreel-gekompliseerde vraag.”

Hy verwys voorts na 'n omme­swaai wat later sou kom, 'n keerpunt waarin inwoners besef het “mense is sonder hul toestemming vasgevang en -gehou”.

Sabrow gebruik die voorbeeld 'ons is die volk, ons is een volk en ek is die volk'.

“Laasgenoemde dui op 'n apatie, 'n gevoel dat dit nie 'my besigheid' is nie. Met die vereniging van Oos- en Wes-Berlyn wou inwoners van die DDR die paradys aan die ander kant, die beter kant, ervaar. Toe hulle egter daar kom, was daar geen teken van die paradys nie.”

Hy sê voorts daar is genoeg bewyse dat die verwerking en hantering van die verlede die beste werk wanneer die verlede vergeet word.

“Ons moet uit die verlede leer om vandag te kan verstaan.”

Met verwysing na die “slagoffers” se wraak op die oortreders vra hy “met watter morele reg kan ons blaam plaas of oordeel oor Oos-Berlyn en sy inwoners fel?”

Die ware prentjie van die DDR is egter een wat volgens hom verskans bly en nie maklik is om te weerspieël­ nie.

“Daar is verskillende dilemmas en lae wat nie van die buitekant gesien kan word nie.”

Ná die val van die muur het die DDR se elite volgens hom in die massas verdwyn. “Hulle het hul politieke en maat­skaplike posisie verloor en geen openbare gehoor meer gehad nie. Wie wil meer hul stemme hoor?”

Sabrow maan die rol van die historikus is iemand wat juis nie regter wil speel nie.

“Dit bly egter 'n dialoog tussen die verlede en die hede, met elkeen wat sy eie weergawe van die dialoog het.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!