'Geen hidrobreking hier'
'Geen hidrobreking hier'

'Geen hidrobreking hier'

Volgens die twee ministeries sal die boorwerk nie in sensitiewe omgewingsgebiede plaasvind nie.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Twee ministeries (van die omgewing, bosbou en toerisme, asook van myne en energie) ontken ten sterkste dat hidrobreking by die Kavangorivier en Okavango-delta beplan word.

“Geen hidrobreking (fracking) word in Namibië beplan nie,” het die ministerie van myne en energie Vrydag by monde van sy woordvoerder, mnr. Andreas Simon, in 'n nuusverklaring gesê ná “misleidende” mediaberigte oor hidrobreking in die Okavango-delta.

“Die ministerie het aangedui dat 'n petroleum-eksplorasielisensie 73 (PEL 73) aan Reconnaissance Energy Namibia Pty Ltd (Recon) uitgereik is vir die doelwit om vir koolwaterstof te soek en nie om enige hidrobreking in die Okavango-delta te doen, soos berig is nie,” het Simon gesê.

Die ontkenning volg nadat wenkbroue gelig is toe die Kanadese maat­skappy ReconAfrica, die pionier van skalie-olie-boorwerk, in Junie die Amerikaner mnr. Nick Steinsberger aangestel het om sy Namibiese boorprojek te lei.

“Steinsberger is gehuur met die doel om suksesvolle en veilige boorwerk te bestuur,” het die petroleumkommissaris, me. Maggy Shino, by navraag aan Republikein beklemtoon.

“Die plekke waar die beplande boorwerk gedoen gaan word, is nie langs die oewers van die Kavangorivier geleë nie en baie ver vanaf die Okavango-delta,” het Simon gesê.

“Op rekord is geen aansoek vir 'n aanlandige produksielisensie for PEL 73 gedoen of goedgekeur nie. Geen aansoek vir 'n lisensie vir die ontwikkeling van onkonvensionele hulpbronne (soos skalie-olie) is ooit ingedien of goedgekeur nie.”

Die nuwe omgewingskommissaris, mnr. Timoteus Mufeti, het ook bevestig dat die omgewingsimpakstudie (EIA) vir die projek deur sy ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme goedgekeur is.

“Die ministerie wil dit duidelik stel dat die omgewingsklaringsertifikaat wat aan Reconnaissance Energy Africa uitgereik is vir die boor van twee stratigrafiese boorgate vir die insameling van data is om die geologie te verstaan en die bestaan van olie of gas te bevestig vir die moontlike olie- en gas-eksplorasie en nie vir hidrobreking nie,” het Mufeti gesê.



VOETSPOOR BEPERK

Hy sê volgens die EIA sal die ekplorasie nie die hele lisensiegebied beslaan nie, maar beperk word tot gebiede 80 km suid van die Kavangorivier, 40 km vanaf die grens van die Khaudum Nasionale Park en meer as 260 km vanaf die Okavango-delta in Botswana.

Volgens Simon is die beplande boorwerk geleë in Blok 1820 by Ncaute, 55 km suid van Rundu “wat baie ver van Okavango-delta af is”.

Mufeti het bevestig dat geen van die goedgekeurde gebiede waar die boorgate geboor sal word nie, in enige bewaringsgebied geleë is nie. Simon het beaam dat geen olie-en gas-eksplorasie in nasionale parke mag plaasvind nie.

“Die potensiële voetspoor sal slegs in 'n gebied plaasvind wat nie groter as 250 m by 250 m rondom elke boorgat is nie. Die grootte van die boorgate is sowat 30 cm by 30 cm,” het Mufeti gesê.

Hy het ook benadruk dat die gebied waar die boorgate geboor sal word nie op die oewers van die rivier is nie en ook nie in 'n sensitiewe omgewingsgebied is nie.

“In die geval waar olie of gas ontdek word, sal 'n produksielisensie deur die ministerie van myne en energie uitgereik word wat onderwerp is aan die vereistes soos 'n gedetaileerde EIA wat die grondslag sal vorm van die omgewingsklaringsertifikaat wat uitgereik sal word,” het Mufeti verduidelik.

“Die ministerie verseker die publiek dat Recon ten volle voldoen het aan die bepalings van die omgewingsbestuurswet, waarna die omgewingsklaringsertifikaat uitgereik is vir die projek om twee stratigrafiese boorgate te boor.”

Volgens Shino het 'n Namibiese maatskappy, Risk Based Solutions, die EIA gedoen.

Volgens Simon was alle belanghebbendes en die burgerlike samelewing deeglik oor die projek ingelig.

“Plaaslike gemeenskappe en belanghebbendes was voortdurend betrokke en hulle aanvaar en keur die baie belangrike eksplorasieprojek goed,” het hy gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!