Geen kunswerk is té groot of té klein

Die talentvolle Kelsey van Schalkwyk sê sy was nog altyd 'n kunstenaar en sy druk haarself beter in beeldende kuns uit.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het nog altyd aanvaar ek is 'n kunstenaar. Daar was nie 'n spesifieke oomblik wat ek dit besef het nie. Ek was nog altyd een. Ek het myself nog altyd vandat ek kan onthou beter in beeldende taal as woorde uitgedruk,” het die kunstenaar Kelsey van Schalkwyk (24) gesê.

Kelsey is in Windhoek gebore en het haar skoolloopbaan in die hoofstad begin en voltooi.

“Ek was vandat ek kan onthou altyd in die kunsklas. As ek die enigste kind in die klas was, het dit my glad nie gepla nie.

“Ek was nie die kind wat gek oor sport was nie. Ek het gesit en geteken. Die onderwyser het my kunsgoed weggevat, omdat ek volgens hulle nie in die klas gekonsentreer het nie. Ek het gesê dit is hoe ék konsentreer. Ek doen dit terwyl ek teken. Dit is normaal vir my.”

Kelsey kom nie uit 'n kunssinnige familie nie. Haar ma het wel bietjie geskilder, maar slegs omdat sy dit wou probeer.

“Almal in my familie is rekenmeesters. Iets waarmee ek glad niks kan aanvang nie,” het sy gesê.



SKILDER

Kelsey hou daarvan om gelyktydig aan verskeie kunswerke te werk.

“Ek het twee rituele wanneer ek skilder. Ek luister na musiek; klassieke of instrumentele musiek of musiek van flieks. Dié tipe musiek laat die kuns uit my uit vloei. Ek luister ook na podcasts wat my ophef en opbou. Daar is ook tye en dae waar ek in absolute stilte sit. Ek vat my goed en gaan sit in die tuin of in die natuur en luister na die voëls, rus en stilte. Dan begin ek my kunswerk skep.”

Kelsey is tans besig met 'n groot skildery om een van haar drome uit te beeld.

“As ek 'n droom nie verstaan nie, dan skilder ek dit en soos ek skilder begin ek die droom verstaan.”

Die skildery het as 'n potloodtekening met 'n man se gesig begin.

“Ek het detail bygevoeg en die skildery het 'n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek het met potlood en kryte begin en oorgeskakel na olieverf, metaalverf en selfs spuitverf. Ek het ook vir die eerste keer kokipenne gebruik wat vir my 'n nuwe ervaring was. Die skildery het net bly uitstroom en ek sal dié mengsel van tegnieke in die toekoms weer gebruik. Ek dink dit is uniek en daar is nie baie mense wat soveel verskillende tegnieke en metodes op een skildery gebruik nie.”

Sy werk nou al omtrent 400 ure aan dié spesifieke skildery.

“Kuns en geld is moeilike kwessies. Ek kan nie iemand per uur vir 'n skildery vra nie. Niemand kan per uur betaal vir 'n skildery waarop ek 400 ure gewerk het nie. Dit sal kuns onbekostigbaar maak. Kuns is nie soos byvoorbeeld 'n motorwerktuigkundige of elektrisiën wat per uur kan vra nie.”

Kelsey gee toe sy is 'n perfeksionis en sy is nie tevrede met 'n skildery as dit nie volgens haar perfek is nie.

“Ek wil nie net hê die skildery moet perfek wees nie, dit moet ook 'n boodskap oordra en gevoel en emosies uitdruk. Ek sal aan dit werk en werk totdat dit perfek is.”

Sy het nie 'n voorkeur vir die materiaal of styl waarin sy werk nie.

“Ek doen alles en gebruik enige materiaal van olieverf tot spuitverf. Ek doen abstrak of realisties. Ek het al alles probeer en kan alles doen. Ek doen wat die kliënt van my verwag. As jy vir my 'n foto gee en sê jy wil 'n skildery hê wat presies so lyk, dan doen ek dit. As jy dieselfde foto vir my gee en sê ek moet dit abstrak teken, dan doen ek dit ook.”

Sy skilder ook muurskilderye vir kerke, besighede of mure binne in mense se huise. Niks is vir haar té groot nie. Inteendeel, hoe groter die skildery hoe beter.

“Ek hou daarvan om voorwerpe te skilder wat op 'n geestelike vlak met my praat. Om voorwerpe met betekenis te skilder, eerder as net 'n portret.”

Kelsey kan ook kunswerke op motorfietse en voertuie spuitverf.

“Ek het myself geleer hoe om dit te doen. Ek het 'n voertuig gesien en gedink kom ek doen dit; ek gebruik net motorverf. Ek het al 'n hele paar gedoen. Mense wil soos vlamme, vlerke of skedels op hulle voertuie of motorfietse hê.”

Die Covid-19-pandemie was finansieel baie moeilik vir haar.

“Dit het my gedwing om baie meer tyd in die studio te spandeer. Meer aandag aan my kuns te gee omdat ek nêrens heen kon gaan nie, maar op die ander hand het mense ook nie geld gehad nie om op kuns uit te gee nie.”



BEELDHOU

Kelsey doen ook van beeldhouwerk.

“Dit is baie opwindend om in 3D te werk. Jy kan van al die hoeke en verskillende hoeke op die kunswerk werk. Dit is nie net 'n plat oppervlakte nie.”

Sy kies eers watter beeldhouwerk sy wil doen en dan bou sy dit met klei van die fondament af op.

“Ek vorm die beeld totdat dit lyk soos wat dit moet lyk. Dan vat ek die krapinstrumente en doen die fyn afrondingswerk. Ek hou daarvan om my beeldhouwerke af te rond sodat dit lyk asof dit uit metaal gemaak is.”

Kelsey maak ook gietvorms.

“Ek ontwerp en maak die vorms. Die gips word dan daarin gegiet en wanneer dit droog is, word die vorm oopgemaak en die beeld uitgehaal. Jy kan die vorm oor en oor gebruik. Ek het byvoorbeeld 'n perdetrofee-gietvorm gemaak wat al menige male gebruik is.”



TATOEëRING

Kelsey het in 2012 in tatoeëring begin belang stel.

“Dit het lank gevat om dit te leer, te oefen en om die toerusting aan te skaf. Jy kan nie 'n graad in tatoeëring kry nie. Jy moet self leer wat vir jou werk. Jy leer watter naalde jy moet gebruik en hoe vinnig en hoe diep die masjien ingestel moet wees. Ek het verskillende tatoeëerkunstenaars gehad van wie ek geleer en wat my gehelp het. Ek het geoefen en geoefen en uiteindelik het my tatoeëermerke soos my skilderye begin lyk en ek was reg om Tattoo Guru Saloon te open.”

Sy hou daarvan om die tatoeëermerk van die begin af te ontwerp.

“Gewoonlik praat ek eers met die persoon. As iemand byvoorbeeld 'n draaktatoe wil hê, sal ek verskillende drake navors en dan sê dit is in Chinese, abstrakte, realistiese of animasie of so wat jy soek. Ek sal uitvind watter styl die persoon van hou en een in dié styl ontwerp. Ek ontwerp 'n oorspronklike tatoeëermerk wat presies daar pas waar jy hom wil hê. Dit sal oorspronklik en enig is sy soort wees.”

Sy sal nie 'n tatoe herhaal nie, al word sy daarvoor gevra. Volgens haar is elke persoon se tatoe daai persoon se tatoe.

“Ek sal slegs dieselfde of 'n soortgelyke tatoe doen wanneer soos twee vriendinne, vriende of 'n ma en dogter na my toe kom en daarvoor vra,” het sy gesê.

“Dit is baie belangrik dat jy kunstig is as jy tatoeëring wil doen. Dit is nie iets wat jy kan leer nie. Jy kan die tegniek leer, maar nie die kuns­aspek nie. Dit is soos musiek maak; as jy nie musikaal is nie, kan jy nie musiek maak nie. Jy kan leer die note lees, maar dit beteken nie jy kan dit speel nie. Ek het probeer om te leer kitaar speel, maar ek kan net nie.”

So baie soos wat sy van die eensaamheid en stilte hou wanneer sy skilder, hou sy ook van die menslike interaksie wat tatoeëring moontlik maak.

“Ek is mal oor my loopbaan in kuns. As ek alleen wil wees en in die tuin wil sit en skilder, dan doen ek dit. Wanneer ek die dag eensaam is en geselskap soek, bel ek iemand en vra of hulle nie nou tyd het om vir hulle tatoeëermerk te kom nie.”

Sy kan ook ou tatoeëermerke bedek of oor letsels tatoeëer. Alhoewel sy meer daarvan hou om haar eie tatoes te ontwerp, kan sy natuurlik ook tatoes doen wat mense vir haar bring.

Mense wat na Kelsey se kuns wil gaan kyk, kan so maak op haar webblad KelseyArt Studio, en vir tatoeëermerke onder die Facebook-blad, Tattoo Guru Saloon.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!