Geen mark meer vir Hoodia

Suide-boere ontnugter
Gerine Hoff
Dit was medisyne. ’n Lekkerny in vakansietye­ as jy die bokke opgepas het of as jy hout gaan soek het. Maar nou is dit tronk toe met jou as jy sonder ’n permit met ’n Hoodia-plant gevind word.
Dit is presies die frustrasie wat Hoodia-boere­ in die //Karas- en Hardapstreek ondervind en nou sit hulle opgeskeep met ’n plant wat niemand mag koop nie.
“Die mense (Hoodia Kwekersvereniging­ van Namibië) het gesê hulle gaan die goed kom haal, maar hulle kom nou al vir meer as drie jaar nie meer nie. Ek het opgehou. Ek gooi nie eens meer ’n bietjie water nie,” het me. Agnes Winkler gesê.
Winkler is een van talle Hoodia-boere­ op Ariamsvlei in die //Karasstreek.
“Ons het ’n probleem met die permit. Ons het geld nodig om dit te hernu, maar waar sal ons die geld kry as ons nie die plante mag verkoop nie?” wil sy weet.
“Ons moet hulle (die plante) nou net sit en kyk. Ons mag nie daaraan raak totdat die regering se mense dit kom haal nie. Ek wil dit nou maar uithaal en my eie groente daar plant of ’n kamer bou. Maar hulle sê mos ons kan nie die goed self uithaal nie, want dan versprei die saad,” sê sy.
Nog ’n Hoodia-boer op Ariamsvlei is mnr. Johannes Matroos, wat ook meen hy wil net die plant uithaal en weggooi, maar omdat dit ’n beskermde plant is, mag hulle nie daaraan raak nie.
“Ek het in 2009 met die projek begin en in 2010 het hulle dit by ons gekoop. Maar van toe af gee hulle ons net ’n verskoning­ dat daar geen mark vir die plant is nie. Dit was glo om armoede te verlig, maar nou weet ek nie so mooi nie,” het hy moedeloos­ gesê.
Die voorsitter van die Hoodia Kwekersvereniging­, me. Molly Kaderli, erken dat geen mark daarvoor bestaan nie. Die vereniging is verantwoordelik om die plante te koop.
“Ja, daar is geen wetenskaplike data vir Hoodia geregistreer nie en daar is eenvoudig­ net nie ’n mark daarvoor nie,” sê sy.
Sy sê egter sy is in die finale fase om met ’n voornemende koper in Duitsland te onderhandel.
“Ek het ’n baie groot kliënt in Duitsland­. Dit het drie jaar geneem om met haar te onderhandel en sy is nou besig om haar produk by die Europese Unie (EU) te registreer.­ Dit het haar €250 000 (om en by N$3,45 miljoen) gekos om haar produk te registreer,” het Kaderli verduidelik­.
Sy erken ook dat Hoodia-boere nie na willekeur die plant mag verkoop nie en dat daar heel moontlik nog net twee van die 300 boere in die twee streke is wat oor permitte beskik.
“Sodra die kliënt geregistreer is, sal ek met die ministerie van die omgewing en toerisme seker maak alles word wettig gedoen,” het sy afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!