Geen rede vir listeriose-paniek in Namibiu00eb
Geen rede vir listeriose-paniek in Namibiu00eb

Geen rede vir listeriose-paniek in Namibië

Dit het gister bekend geword verwerkte vleisprodukte van 'n Enterprise-fabriek in Polokwane is vir die dodelike listeriose-infeksie in Suid-Afrika verantwoordelik.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die hoof van die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in Namibië het gister die verse­kering gegee vleisprodukte uit Suid-Afrika word aan streng gesondheidstoetse onderwerp en verbruikers hoef nie listeriose te vrees nie.

Dr. Milton Maseke, hoof- veeartsenybeampte by DVS, het by navraag gereageer op die nuus uit Suid-Afrika dat die bron vir die dodelike listeriose-infeksie in dié land opgespoor is.

Dr. Aaron Motsoaledi, die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, het gistermiddag in Johannesburg bekend gemaak die oorsprong van die dodelik stam van listeriose is teruggespoor na die Enterprise-fabriek in Polokwane in die Limpopo-provinsie.

Produkte soos polonie, Weense worsies en kouevleis wat daar vervaardig word, is as die bron uitgewys.

Van 2017 tot Februarie vanjaar is 172 mense aan dié bakteriese infeksie in Suid-Afrika dood en 915 gevalle van die infeksie is aangemeld.

Volgens Maseke vereis die direktoraat dat alle ingevoerde vleisprodukte eers getoets moet word om seker te maak dit bevat nie gevaarlike organismes soos listeriose wat verbruikers kan siek maak nie.

“Ons invoervereistes is baie streng en die produkte wat hier op die rak is, het daardie toetse ondergaan. Daar is nie rede vir paniek in Namibië nie,” het hy gesê.

Motsoaledi het aan joernaliste gesê hy is om middernag wakker gebel met die nuus dat navorsers van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) die bron vir die dodelike stam van listeriose opgespoor het, berig Netwerk24.

“Dit is die polonie wat mense siek gemaak het,” het Motsoaledi gesê.

Die nasionale verbruikerskommissie in Suid-Afrika gaan nou kos van dié fabriek nasionaal en internasionaal herroep. Die publiek is aangeraai om verwerkte vleisprodukte te vermy.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer