Geen rook, drank en 'n goeie man

Ouma Hulde wag op 102 nog geduldig vir 'n huis.
Tanja Bause
Tanja Bause



Ouma Hulda Isaak vier op 28 November haar 102de verjaardag.

Afgesien van artritis in haar hande en knieë is dié Namibiër gesond en vol planne.

“Ek rook en drink glad nie en het nooit nie. Ek het ook 'n baie goeie man gehad wat my nie gemors het nie en my op die hande gedra het.”

Dít is volgens Ouma Hulda die geheim vir 'n lang lewe.

Sy is op Schlip gebore en het op Maltahöhe skoolgegaan. Haar ouers is op Voigts Grund, 'n plaas buite Maltahöhe, hervestig en hier het sy grootgeword en vir die eerste keer geboer.

“Dit is ook waar ek my man, Salmon, leer ken het en ons getrou het. Ek en hy het 11 kinders gehad. Ons was op die plaas en dit was ver van die dorp of hospitaal af, so my man het my met elke kind se geboorte bygestaan en elke kind se naelstring self geknip.”

Ná haar man se afsterwe in 1953 het Ouma Hulda met die hulp van wyle kapt. Hendrik Witbooi en onderkapt. Christiaan Rooi Gibeon toe getrek waar sy vandag nog saam met haar familie woon.

Ouma het ná onafhanklikheid vete­raanstatus by die regering ontvang en is 'n huis belowe.

“Ek is geduldig en wag steeds vir my huis. Ek hoop ek sal dit nog kry, en dat ek eendag as ek na die Here geroep word uit my eie huis gedra sal word,” sê sy.

Ouma het destyds springbokvelle met die hand gebrei en verkoop om vir haar gesin te sorg. Sy het ook laslappiekomberse en al haar en haar kinders se klere self gemaak.

“Ek wens die Here kan my nog bietjie krag gee dat ek nog iets kan maak, maar my hande is nou bietjie oud en ek sukkel met die artritis,” sê sy.

Ouma sê sy het soos 'n seun grootgeword.

“As 'n bok of 'n skaap weggeraak het, het ek na die dier gaan soek tot ek hom gekry het. Ek was nog nooit bang vir werk nie. Miskien is dit hoekom ek so baie seëninge van die Here af kry,” sê sy.

Sy hoop Gibeon se mense kan saamstaan en hul voorvaders se erfenis bewaar.

“Moenie bang wees vir werk nie. Staan saam en los die drank. Respekteer jul ouers en wees gehoorsaam,” sê sy.

Nege van Ouma Hulda se 11 kinders is al dood, maar sy het heelwat klein- en agterkleinkinders.

“Ek wil ook nog behoorlik leer Afrikaans praat voor ek opgeroep word,” sê sy. 

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!