Geen rykdom sonder mekaar nie
Nee jong, my mense, so kan ons nie voortgaan nie.
Hierdie week het ons die wêreld se voorste kenners van ekonomiese ontwikkeling in die land, mense wat weet hoe om die groeiende gaping tussen die rykes en die armes te vernou, maar wat moet hulle op ons dagblaaie se voorblaaie lees?
Professor Joseph Stiglitz is ’n ekonomiese Nobelpryswenner. Hy, dr. Carlos Lopes, die uitvoerende sekretaris van die Verenigde Nasie se ekonomiese kommissie, en mediakenner Anya Schiffrin is tot vandag betrokke by vergaderings hoe ons die land en sy mense in hul huidige stryd om opheffing kan help. Ongelukkig weet ek nie van al die ditjies en datjies wat hulle gister met president Hage Geingob bespreek het nie.
Miskien het hulle gesels oor stories in ons daaglikse koerante? Oor berigte van leiers wat nie verantwoordelikheid neem vir besluite wat miljoene dollar se belastinggeld kos nie. Die studentefonds kan nie rekenskap gee van geld wat reeds geleen en geskenk is nie, terwyl studente by Namibiese universiteite maar moet hoop hul rekeninge word betaal voor die eksamen se sperdatums.
Die rykes vat kortpad en voel vere vir dieselfde reëls wat ander gedurig in die knyp hou. Vir ekstra profyt word mede-Namibiërs sommer langs die pad gestort.
Ons suip liewer soos visse, lig die hand vir ons vroue, en die oumanne verkrag seuntjies onder tien wat hul slapend onder ’n boom kry. ’n Mens moet dapper wees om hier ’n bestaan te maak.
Maar al die moed ter wêreld sal nie genoeg wees nie, tensy ons aandring om ’n nuwe rigting in te slaan. Ons is op pad in heeltemal die verkeerde rigting.
Dalk lê die kern van die probleem by die alewige misverstand oor wat waarde het en wat waardevol is. Mense is geneig om so maklik te vergeet dat die lewe nie verdien is nie, nie verseker is nie, en ook nie vanselfsprekend aanvaar moet word nie.
Inteendeel, die lewe is ’n gawe, wat enige oomblik tot niet kan gaan. En sekerlik nie dieselfde sal bly nie.
Als waarop jy nou staat maak, kan in ’n oogwink verdwyn. Dink net daaraan. Jou besittings, jou prestasies, jou sosiale status. Net so - poof! Weg. Wat dan?
Wat bly oor as die rooi tapyt onder jou voete uitgeruk is? Hoe gaan mense voort die dag as die bank die huis kom afvat, of wanneer jy jou werk verloor, of daar net nie genoeg geld vir kos vir die gesin is nie?
Sal daar dan steeds iets met opregte waarde oorbly om die stryd mee voort te sit, om die lewe weereens aan te durf? Sal daar genoeg liefde wees in jou lewe, genoeg liefde in jou huisgesin, genoeg liefde in jou buurt, of in jou gemeenskap? Sal daar genoeg vrede wees, genoeg samewerking, genoeg empatie, genoeg menswees?
Ons heg soveel waarde aan dinge waaruit ons niks kan leer nie, wat ons niks laat voel nie, en waarby ons aan die einde van die dag nie kan baat nie. Terwyl ons almal jaag om die rykste te wees, die mees populêre, die mooiste, of die mees belangrike, verloor ons iets veel meer belangrik en waardevol. Ons verloor ons self.
Namibiërs moet besef daar is geen rykdom sonder mekaar nie.
Buiten vir ons huidige gaste is daar baie ander kenners in die land. Kom ons wees nie soos die perd wat tot by die water gelei word en steeds nie wil drink nie.
Kom ons benut die kans om vir mekaar en vir onsself iets beter te skep as die leë bestaan van gierigheid en selfsug. Ek sê ook maar net . . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie