Geen uitbreking van varkgriep
Geen uitbreking van varkgriep

Geen uitbreking van varkgriep

Vier bevestigde gevalle van die H1N1-griepvirus word tans in die hospitaal behandel.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Namibië beleef tans ’n toename in die aantal seisoenale H1N1-griepgevalle, met sewe bevestigde gevalle van die siekte wat reeds aangemeld is.

Vier van die bevestigde gevalle is in die hospitaal opgeneem.

Tog het die ministerie van gesondheid by monde van sy uitvoerende direkteur beklemtoon daar is geen uitbreking van varkgriep in die land nie.

Volgens mnr. Ben Nangombe het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) die H1N1-virus, voorheen bekend as varkgriep, ná die pandemie in 2009 as ’n seisoenale griepvirus geherklassifiseer.

“Dit sirkuleer die afgelope dekade wêreldwyd dwarsdeur die jaar, met gevalle wat in die winter toeneem. Dit beteken meer mense kan van die betrokke virusstam siek word,” het Nangombe gesê.

Tekens en simptome van die siekte sluit hoë koors, hoes, seer keel, loopneus, lyfseer, kopseer, moegheid, diarree en naarheid in.

Volgens Nangombe het Namibië ’n grootskaalse H1N1-uitbreking in 2009-’10 gehad, met meer as 8 000 vermeende gevalle wat aangemeld is.

Hiervan het 102 gevalle positief vir die siekte getoets. Een persoon is aan die siekte dood. Die meeste gevalle is in die Ohangwena-, Omusati- en ||Kharasstreek aangemeld.

Verlede jaar is 106 laboratorium-bevestigde H1N1-griepgevalle aangemeld en is twee mense aan die siekte dood. Die gevalle het in al die streke van die land voorgekom buiten Oshikoto, Omusati, Ohangwena, Kavango en ||Kharas.

Volgens Nangombe word H1N1 hoofsaaklik deur nies en hoes of direkte kontak met oppervlaktes oorgedra wat besmette druppels op het.

Hoërisikogroepe sluit kinders onder die ouderdom van vyf jaar, bejaardes ouer as 65 jaar, swanger vroue, mense met ’n verswakte immuunstelsel en chroniese onderliggende mediese toestande in.

As voorkomingsmaatreël teen die siekte stel die ministerie voor inwoners word ingeënt teen die H1N1-virus, met die seisoenale griepinspuiting wat dié virusstam insluit en in Namibië beskikbaar is.

Inwoners word ook gemaan om genoeg vloeistowwe te drink om ontwatering te voorkom, persoonlike higiëne deurentyd toe te pas en gereeld hande te was en ook dit vermy om aan jou oë, neus en mond te vat omdat kieme so versprei.

Nangombe het beklemtoon die siekte is selfbeperkend, wat beteken hy woed homself uit.

Mense wat simptome en tekens van griep toon, moet rus, gereeld water drink en koors en hoes met oor-die-toonbank medikasie bestuur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!