Geen vrystelling vir //Hou00ebseb
Geen vrystelling vir //Hou00ebseb

Geen vrystelling vir //Hoëseb

Regter sê al die klagte spruit uit een voorval
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Regter Christie Liebenberg het gister mnr. Ivan //Hoëseb se aansoek om ontslag van die klagte van verkragting, roof en dwarsboming van die gereg waarop hy tereg staan, van die hand gewys.

Dié klagte asook ’n klag van moord, spruit uit die dood van die 26-jarige Elizabeth Ganses wat op die oggend van 31 Oktober 2015 naby die Tsaraxai-Aibes woonbuurt op Otjiwarongo aangetref is. Die halfnaakte liggaam van Ganses was aan die brand gesteek.

//Hoëseb se regsverteenwoordiger, mnr. Milton Engelbrecht, het betoog dat daar nie genoeg getuienis is om hom skuldig te bevind op die klagte van verkragting, roof en dwarsboming van die gereg nie. Hy het aangevoer dat die slagoffer volgens die nadoodse verslag verwurg is, maar dit maak geen melding van getuienis dat sy verkrag is nie.

Engelbrecht het verder gesê volgens die getuienis van me. Marryn Swart, ’n forensiese wetenskaplike van die Nasionale Instituut vir Forensiese Wetenskap van Namibië, is daar geen DNS-skakel tussen die oorledene en die beskuldigde nie.

Engelbrecht het ook aangevoer daar is geen aanduiding van wie presies vermoor, verkrag of aan die brand gesteek is volgens die getuienis van adjunkkommissaris Moses Khairabeb van Nampol nie.

Khairabeb het getuig dat //Hoëseb gedurende ondervraging aan hom gesê het: “Kla my aan. Miskien is ek vervloek. Ek sal ook aan die hof vertel dat ek haar N$400 se seks gegee het . . . ek het haar verwurg en verkrag. Die broek op haar gesig geplaas en dit met ’n sigaret gebrand. Haar selfoon geneem en geloop.”

Die staat het die aansoek om ontslag teengestaan omdat //Hoëseb ’n inkriminerende erkenning teenoor Khairabeb gemaak het dat hy die oorledene aan die brand gesteek het.

Volgens mnr. Henry Muhongo, wat namens die staat optree, suggereer die feit dat Ganses halfnaak op haar rug aangetref is dat sy verkrag is. //Hoëseb was ook in besit van Ganses se selfoon. Muhongo het voorts aangevoer die getuienis dui daarop dat //Hoëseb vir die hele moordtoneel verantwoordelik was en hy die enigste persoon was wat ’n rede gehad het om die oorledene se liggaam aan die brand te steek.

Die regter het bevind dat al vier misdade na aan mekaar gepleeg is. Hy het gesê dat die klagte van verkragting, roof en verdoeseling van getuienis uit die moordvoorval spruit.

In verband met die klag van verkragting het die regter gesê die getuienis van die forensiese patoloog, dr. Lander Barreda, is van toepassing. Uit dié getuienis het dit geblyk ’n skerp voorwerp is in Ganses se vagina gesteek en dit verteenwoordig ’n seksuele daad.

Hy het ook gesê Khairabeb se getuienis dat die beskuldigde aan hom gesê het hy het gemoor, verkrag, die foon geneem en ’n kledingstuk op die gesig van die slagoffer geplaas en aan die brand gesteek, nie geïgnoreer kan word nie.

Die regter het verder gesê //Hoëseb het nie die oorledene se selfoon wat in sy besit gevind is, aan haar terugbesorg nie – “nie gedurende haar lewe of nadat sy gesterf het nie”.

Hy het verder gesê getuienis is gelewer dat die liggaam aan die brand gesteek is en ’n afleiding gemaak kan word dat die brandstigting ten doel gehad het om die misdade te verdoesel.

Regter Liebenberg het bevind daar was genoeg getuienis om die aansoek van die hand te wys. Die verhoor duur vandag voort.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer